

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 May 2007
‘n Boer van die Albasinidam-omgewing, mnr. Quentin Otto, dreig met ‘n moontlike hofbevel om ‘n serwituutpad oor sy plaas te sluit, sou padgebruikers nie begin om die boere se goedgesindheid in ag te neem nie.
Otto se ongelukkigheid spruit oor ‘n skietvoorval die afgelope naweek wat veroorsaak het dat hy een van sy top Arabierperde moes uitsit nadat dit gekwes is.
"Omstreeks middernag Saterdag is sewe skote afgevuur vanaf die serwituutpad wat oor ons plaas loop," vertel Otto. Hy boer op die plaas Welgevonden net oos van die Albasinidam met ‘n serwituutpad wat goedgunstiglik deur die boere oopgestel is, wat onder meer oor sy grond loop en die Mambedi- en Valdezia-gemeenskappe bedien.
Tot sy skok het Otto, wat ‘n ryskool op die plaas bedryf, die volgende dag gemerk dat een van sy top merries ter waarde van sowat R25 000, ‘n erge beenbreuk opgedoen het as gevolg van ‘n skietwond en noodgedwonge uitgesit moes word. ‘n Koeëlpunt is uit die wond verwyder.
"Die gebeurtenis kan basies vertolk word as ‘n plaasaanval, aangesien skote vanaf hierdie pad na ons woonhuis en krale geskiet is. Wie is volgende? My ander perde? My familie? My werkers?" het Otto gevra. Hy voeg by dat skote gereeld vanaf die pad geskiet word. Ander kopsere vir die boere behels die kroniese rommelstrooiing, gejaag, geraas en geskreeu en die feit dat die skouer van die pad as ablusiegeriewe gebruik word.
"Die vraag is of hierdie padgebruikers regverdig optree ten opsigte van die feit dat hul vergun word om die serwituutpad te gebruik? Ons as eienaars word glad nie in ag geneem nie," sê Otto. "Wat sal gebeur as ons in die toekoms geweervuur met geweervuur beantwoord?" voeg hy by.
Otto het die vraag gevra of hulle (die boere) nie maar moet aansoek doen vir ‘n hofbevel om die pad te sluit nie, aangesien gebruikers van die serwituutpad wel ‘n ander beter roete na hul woongebiede het.
Intussen het Otto ‘n saak by die polisiestasie op Waterval geopen en die skietvoorval word ondersoek. Otto sê hy wag nog vir ‘n besoek van die stasiebevelvoerder om die kwessie van die pad en wetteloosheid te bespreek.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
