

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 May 2007
Baie sugte van verligting word geslaak nadat die Makhado Munisipaliteit ‘n besluit aanvaar het om die implementering van die nuwe wet op eiendomsbelasting vir ‘n jaar uit te stel.
Tydens die raadsvergadering op 10 Mei is dié item teruggehou, hangende die uitslag van ‘n versoek wat aan die nasionale Departement van Plaaslike Regering en Behuising gerig sal word om die implementering van die nuwe waardasierol uit te stel na die 2008/9 finansiële jaar. Verder is besluit dat die departement versoek sal word om die bestaande waardasierol tot 30 Junie 2008 te laat geld. Die departement sal ook gekonsulteer word ten opsigte van die geldigheid van die konsultasieproses sover.
Munisipale woordvoerder mnr. Peter Magwala het Maandag gesê die Raad besluit het om die proses uit te stel aangesien hulle verdere advies oor die aangeleentheid wil inwin. Hy het ook aangedui dat die nuwe belastingbeleid "holisties" toegepas sal word oor die hele spektrum, nie net in die dorp Louis Trichardt nie, maar ook in die buitewyke of R293 gebiede. Tans dra die dorp 70% van die munisipale heffings en belastings by en R293 dorpe 4%.
Vrystellings, kortings en vermindering in die belastingbeleid word kragtens die wet deur plaaslike munisipaliteite toegestaan, gebaseer op plaaslike toestande.
Die nuwe eiendomsbelastingwet is in 2004 gepromulgeer. Die wet het in Julie 2005 in werking getree, onderworpe aan sekere oorgangsreëlings. Dit sou ‘n invloed op munisipale begrotings hê wat in werking getree het in Julie 2006. Van munisipaliteite word verwag om eerstens ‘n belastingbeleid te ontwikkel. Die prosesse daarna sluit in die voorbereiding van die algemene waardasierolle en die raadpleging van die gemeenskap. Die Makhado Munisipaliteit se voorgestelde konsep belastingbeleid is nie aanvaar nie en is terugverwys.
Wanneer die belastingbeleid aanvaar word, word waardasierolle in die Staatskoerant gepubliseer vir insae deur die publiek, waarin die beswaarprosedure ook aangegee word. Elke munisipaliteit besluit self op die sent-in-die-rand wat gehef sal word op die markwaarde van grond en geboue.
Gestel ‘n woonhuis se waarde is R850 000 en gestel die sent-in-die-rand is R0,015. Die eerste R15 000 word nie in berekening gebring nie. Die eiendomsbelasting is dus R835 000 maal 0,015, wat ‘n jaarlikse bedrag van R12 525 sou gee en ‘n maandelikse paaiement van R1043,75.
Die sent-in-die-rand is waarskynlik nog nie deur die Makhado Munisipaliteit bepaal nie en ‘n navraag daarna word nog ondersoek.
Me. Marie Helm, streekbestuurder van TLU-Noord, het hierdie week gesê dat die munisipaliteit moet onthou dat die belastingbetaler nie ‘n onuitputlike bron van geld is nie. "Daar kom ‘n punt waar die getroue belastingbetaler ‘n weerstand opbou en die belastinggeld in ‘n trust inbetaal," sê Helm.
Raadslid Brian du Plooy van die DA het hierdie week in ‘n persverklaring belastingbetalers gemaan om in die prosesse betrokke te raak. "Louis Trichardt as ‘n dorp dra 70% by tot die inkomste van die munisipaliteit en op die oomblik word baie min teruggeploeg," sê die verklaring.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
