ADVERTISEMENT:

 

Die eerste baba het by Shiloh Place aangekom en het al klaar almal se harte gesteel! Van links is projekbestuurder Linda Dunhin, klein Ronald en huismoeder, Theresa de Beer.

Eerste baba heel tuis by Shiloh Place

 

News  Date: 18 May 2007

 

Die eerste baba het by Shiloh Place aangekom en het al klaar almal se harte gesteel!

Shiloh Place in Munnikstraat staan al ‘n paar maande gereed om babas in te neem wat verlate is, wees gelaat is, of gered is van aborsie. ‘n Geskikte ouerhuis word dan gevind. Shiloh Place val onder die uMephi-stigting van die AGS kerk se Uitvoerende Welsynsraad.

Die huis is met soveel liefde gereedgemaak en uiteindelik het klein Ronald op 8 Mei sy opwagting gemaak.

‘n Barmhartige Samaritaan van Tshikota, genaamd Grace, het op ‘n baie verswakte moeder afgekom met ‘n baba op die rug. Sy het verneem dat die vrou in die finale stadium van HIV/Vigs verkeer en bekommerd was oor haar baba, vir wie sy nie verder kon sorg nie

Grace het in die Limpopo Mirror (die Zoutpansberger se susterskoerant) van Shiloh Place gelees en het Trinette Claassens, die maatskaplike werker, geskakel. Grace, Trinette en huismoeder Theresa de Beer is saam met die hulpvaardige Grace na Elim om die moeder en baba te ontmoet. Na die groepie ‘n paar ure by die hof spandeer het, was die moeder tevrede dat sy die beste voorsorg vir haar kind se toekoms gemaak het.

Vier-en-‘n-half-maande oue Ronald, wat op Kersdag gebore is, is tien minute na sy aankoms gebad en gevoed deur huismoeder Theresa.

Ronald, met sy wye glimlag en vrolike kraai-geluidjies, het gou by sy nuwe omgewing en roetine aangepas.

"Die eerste aand was moeilik, maar van die tweede aand af slaap hy goed," sê Theresa.

Wanneer hy bedags met slapenstye sy mamma se rug mis, is Linda Dunhin, die projekbestuurder, dikwels byderhand om hom so ‘n bietjie aan die slaap te sing.

Omdat sy mamma hom met die hand melk gevoed het, was die tietiebottel aanvanklik vreemd vir klein Ronald. Linda lei daarvan af dat iemand vir die mamma moes gesê het om nie haar baba te borsvoed nie, aangesien dit die HIV virus oordra.

"Hy is ‘n besondere gesonde en vriendelike seuntjie. Gewoonlik word die babas voor aanneming vir HIV/Vigs getoets, maar ons sal Ronald vroeër laat toets," sê Linda.

Dr. Johan van Rensburg van die plaaslike AGS-gemeente, wat die projek geïnisieer het, sê dat sy eerste gewaarwordinge dié van hartseer en dankbaarheid was. Hy was hartseer omdat die babatjie se ma HIV positief is en haar kind moes afgee, maar hy troos hom daaraan dat die kindjie baie liefde en ‘n geestelike opvoeding sal ontvang.

Die babahuis se rekordhoudingsisteem, higiëne en roetine is uitstekend. Verder is die fraaiste babakleertjies perfek netjies volgens ouderdomsgrootte in die kaste gepak. Net so spreek elke detail in die huis van baie liefde en ordelikheid.

Die babahuis is ‘n gemeenskapsprojek wat reeds baie belangstelling uitlok. Dr. Van Rensburg bedank die gemeenskap vir hul bydraes en spesifiek ook die Lions en Rotariërs.

Shiloh Place het ‘n onmiddellike behoefte aan groente, Purity en 4kg tot 9kg doeke vir Ronald, asook vrywilligers wat Theresa ‘n blaaskansie kan gee. Alle donasies is welkom. Belangstellendes of vrywilligers word gevra om met die projekbestuurder, Linda Dunhin, by 084 707 8575 te skakel om te reël vir besoeke of donasies.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines