

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 May 2007
Een van die eerste gevestigde wildboere in die Musina-distrik, mnr. Hendrik Frederik Terblanche de Swardt, beter bekend as Oom Seun, laat met sy onlangse heengaan ‘n groot leemte in die harte van baie Musina inwoners na.
Oom Seun, wat hom reeds in 1957 in Musina gevestig het saam met sy vrou, Joan en hul twee kinders, Jenneke en Johan, laat diep spore na in die sakegemeenskap van die dorp.
Vanuit die staanspoor was hy aktief betrokke in die gemeenskap. Kort nadat hy en sy vrou vanaf Louis Trichardt hierheen verhuis het en ‘n versolingsbesigheid geopen het, is hy 1966 tot Raadslid van die destydse Messina Gesondheidskomitee verkies en vir 30 jaar was hy verbonde aan die Stadsraad as voorsitter van die bestuurskomitee en as burgemeester van die dorp. Oor die jare het hy leiding geneem as voorsitter van verskeie ander instansies, onder andere Hoërskool Eric Louw se bestuursraad en die Messina-skoukomitee, wat vir etlike jare die beste plattelandse landbouskou in Suid-Afrika aangebied het. Verder het hy gedien op die Wildsvereniging en die Sakekamer.
Hy het ook ‘n onmiskenbare rol gespeel in die vestiging van Venetiamyn. Onder sy leiding het fenomenale ontwikkeling in Musina plaasgevind onder uiters moeilike omstandighede met die sluit van die plaaslike kopermyn. Selfs van die fabrieke in die dorp het deur sy toedoen tot stand gekom.
Een van sy ander nalatenskappe is die stigting van Messina Toyota, tans ‘n besigheidsmekka wat as een van die suksesvolste in die dorp gereken kan word. ‘n Nalatenskap wat sy seun, mnr. Johan de Swardt, met trots alreeds as landmerk van die dorp uitgebou het met al die nuwe ontwikkelings. As sakeman het Oom Seun oor die besigheidsvernuf beskik om geleenthede raak te sien nog lank voor ander selfs daaroor kon droom.
Sy passie vir die buitelewe het hom ook as toonaangewende op dié gebied laat uitstyg, vandaar sy betrokkenheid op verskeie wildkomitees en studiegroepe.
Tog, ten spyte van die feit dat hy een van die dorp se gesiene inwoners was wat diep spore in die vooruitgang van die dorp se sakegebied gelaat het, sal sy vriende en familie hom onthou in sy swart sportbroek, kakiehemp en Hush Puppy-skoene langs die braaivleisvuur waar hy skaaptjops op sy plaas, Stoke, braai.

ADVERTISEMENT:
