ADVERTISEMENT:

 

Geweldsmisdaad in streek duur steeds voort

 

News  Date: 15 October 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Te midde van ‘n sterk polisieteenwoordigheid in die streek die afgelope week, het die vlaag van ernstige geweldsmisdaad egter in ‘n groot mate voortgeduur.

Die 30-jarige mnr. Stephan Hattingh het Vrydag (8ste) die jongste slagoffer geword van ‘n gewelddadige gewapende roof. Mnr. Hattingh het vroeër die oggend sowat R50 000 se lone gaan trek en was onderweg na die Gants-fabriek op Dzanani waar hy werksaam is.

Sowat sewe kilometer uit op die N1 noord, het ‘n groep van drie swaar gewapende mans in ‘n BMW hom gedwing om op die Witvlagpad af te draai. Mnr. Hattingh is tot stilstand gedwing en uit sy voertuig geruk.

Twee van die drie aanvallers was met AK47’s gewapen. Mnr. Hattingh is herhaaldelik aangerand en onder meer met die kolf van die aanvalswapens in die gesig geslaan. Sy aanvallers het herhaaldelik geld geëis. Nadat hulle die R50 000 gebuit het, het hulle mnr. Hattingh langs die pad agtergelaat en weggejaag.

Tydens die aanval en alvorens die drie aanvallers mnr. Hattingh tot stilstand kon dwing, kon hy daarin slaag om met sy selfoon hulp te ontbied. Die voorval het omstreeks 10:55 plaasgevind. Sy noodkreet is gehoor deur ‘n lid van die plaaslike kommando, dr. Philip Venter. Dr. Venter het hom dadelik te hulp gesnel en omstreeks 11:05 die erg geskokte en beseerde mnr. Hattingh langs die pad gevind.

In nog ‘n gewelddadige aanval kan ‘n arbeider van die Hanglip-plantasie, soos mnr. Hattingh, homself gelukkig ag om nog te leef. Donderdag (7de) omstreeks 08:00 is hy ook deur drie gewapende mans by sy werksplek oorval terwyl hy besig was om kos te kook. Die drie aanvallers het hom sonder waarskuwing en sonder om enige iets te sê, begin aanrand. In sy poging om homself te verdedig, het sy aanvallers hom in die wang geskiet. Hy kon egter daarin slaag om los te ruk en te voet te probeer vlug. Sy aanvallers het hom egter agterna gesit en in die jaagtog is hy ook in die linkerarm en regterskouer gewond. Wonder bo wonder kon hy egter daarin slaag om steeds sy aanvallers te ontvlug. Sy aanvallers het daarna by hul slagoffer se werkgewer se huis ingebreek. Dit is nie seker of enigiets gesteel is nie, aangesien die eienaar van die huis in daardie stadium in Pretoria was.

Teen druktyd is geen verdagtes in beide sake nog aangekeer nie.

Intussen het die ses mans, wat daarvan beskuldig word dat hulle verlede Dinsdag (5de) verantwoordelik was vir die aanval op mnr. Gillie Fick van die plaas Sodom langs die Vivo-pad, Donderdag (7de) in die plaaslike landdroshof verskyn. Die ses, Robert Mkhwanazi (25) van Tembisa, Ndumiso Ndabandaba (29) van Tembisa, Moses Mabhena (21) van Zimbabwe, Vusi Ncube (29) van Tembisa, Nkosana Ncube (34) van Midrand en Paul Nyelika (33) van Midrand, se saak is vir sewe dae uitgestel ingevolge Artikel 50 (6) van die Strafproseswet om die Staat geleentheid te gee om hul besonderhede, werk en huislike omstandighede te bevestig. Geen borgaansoek kan in dié tydperk gebring word nie en hulle verkeer steeds in aanhouding.

Dit is in hierdie stadium steeds nie moontlik om te sê of die ses verdagtes, wat ure na die aanval deur lede van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie se steungroepe in samewerking met die veiligheidsmagte aangekeer is, betrokke was by die moord op mnr. Martin Armitage and s/insp. Daniel Mthombeni nie. In beide moorde is ‘n 9mm-pistool gebruik, soortgelyk aan een wat in die ses verdagtes se besit gevind is. Die uitslag van die ballistiese toetse word nog ingewag. Daar is tans slegs een laboratorium in die land wat dié toetse hanteer.

(Die plaaslike polisie het die afgelope week inwoners vermaan om stil areas en die digte bosse aangrensend tot die woongebiede te vermy. Hulle het ook inwoners en besoekers vermaan om nie gebruik te maak van voetpaaie deur die voël- en boompark, veral nie tussen die dorp en Eltivillas nie. Die gebiede word reeds ‘n geruime tyd as hoë misdaad gebiede geklassifiseer. Die bosarea direk noord van die dorp word tans geag as baie gevaarlik. Soos met die aanval op ‘n plantasiewerker verlede Vrydag, was die digte bosse langs die dorpsdam twee weke gelede die toneel van nog ‘n sinnelose moord. Die vermoede bestaan dat een groep gewapende aanvallers in beide voorvalle betrokke kon wees en tans steeds in die bosse skuil.)

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines