ADVERTISEMENT:

 

Die bouwerk aan die chemiese doseringsgebou by die suiweringswerke by die Nandonidam nader voltooiing.

Nuwe pypleiding gaan waternood verlig

 

News  Date: 25 May 2007

 

Dinge is aan die gebeur om uiteindelik die streek se watervoorsieningsprobleme op te los.

Studies van die Departement Waterwese en Bosbou wat in 1996 afgehandel is, het daarop gewys dat daar teen 2020 ‘n tekort van 48 000 000m³ drinkwater in die area sou wees. Hierdie skokkende bevinding en knellende droogtes soos dié in die vroeë negentigerjare het die departement laat besluit om die bal aan die rol te sit.

Die projek bestaan uit ‘n stuwal en 20 megaliter suiweringswerke by Xikundu, naby Mhinga, die Nandonidam naby Thohoyandou, en ‘n 60 megaliter suiweringswerke by die dam self.

"Verskeie pypleidings en reservoirs moet die area vanaf Mhinga tot by Louis Trichardt, Elim, Waterval en verder wes bedien," sê mnr. Rudolf Ras, ingenieur en die kontrakte bestuurder van DWWB: Konstruksie Noord.

Die Xikundu-werke is in 2004 voltooi en onlangs is die laaste van 120km pype en twee groot reservoirs as deel hiervan in werking gestel. ‘n Groot area, insluitend Tshifudi, Mhinga, Xigalo en Malamulele Oos, word alreeds bedien met grootmaat gesuiwerde water.

Die Nandonidam is in 2005 voltooi en het die eerste keer oorgeloop in Junie 2006. As deel van hierdie konstruksie moes 1 000 grafte en 465 huishoudings verskuif word.

Huidiglik is die projek in ‘n fase waar die grootmaat pyplyne vanaf Nandoni in ‘n westelike rigting ´n aanvang geneem het.

"Die sowat 106km pyplyne wissel van 350mm tot 700mm in deursnee," sê mnr. Ras.

Wat reservoirs betref, is ‘n 5 megaliter reservoir reeds by Mavambe opgerig en ‘n 16 megaliter reservoir by Univen in Thohoyandou is bykans voltooi. Die suiweringswerke se eerste water na Thohoyandou en Mavambe behoort in Maart 2008 te vloei.

Die rol van die Departement Waterwese is om die grootmaat voorsiening te ontwikkel en dan die munisipale strukture by te staan om die verspreiding na die verbruikers te implementeer.

Wat gebeur nader tuis?

"Verskeie pompstasies tussen die Nandoni- en Albasinidam het pas begin. Die voorsiening van gesuiwerde water vir Louis Trichardt en verder wes word deur die Departement slegs gebou tot by Valdezia naby Albasini. Vandaar moet dit deur die Munisipaliteit verder geïmplementeer word," sê mnr. Ras.

Wanneer sal die water die Albasini bereik?

"Tans word verwag dat water Valdezia naby Albasini sal bereik teen laat 2010. Pypleidings na Elim en Waterval sal ook dan voltooi wees," sê mnr Ras.

Intussen doen die munisipaliteit en Waterwese Limpopo die beplanning vir Louis Trichardt, Sinthumule en Kutama.

Mnr. Masindi Mapholi, die Makhado Munisipaliteit se Direkteur: Tegniese Dienste, het Dinsdag gesê die eerste fase behels die pypleiding vanaf die Nooitgedacht munisipale boorgate na Madombidzha, die oprigting van ‘n 10 megaliter reservoir by Mowkop, asook die pypleiding van die boorgate na die reservoir. Vir hierdie projek het die Vhembe Distriksmunisipaliteit Rendeals4 aangestel, wat Africon as ingenieurs aangewys het.

"Die beplanningsfase is gedoen en Africon sal nou enige tyd ‘n kontrakteur aanwys. Die afhandeling hiervan is in die begroting vir die 2007/8 finansiële jaar," het mnr. Mapholi gesê. Die doel van hierdie fase is om die watervoorsiening aan te help totdat die Nandoniprojek 100% voltooi is.

"Teen Augustus behoort die gemeenskap die fisiese implementering van fase een te begin waarneem," het mnr. Mapholi gesê.

Die pypleiding tussen die Albasinidam en die dorp is in die tweede fase van beplanning. Mapholi was oortuig daarvan dat die volle funksionering van watervoorsiening vanaf die Nandoni tot by Louis Trichardt in die 2008/9 belastingjaar sal plaasvind.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines