

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 May 2007
Op 71-jarige ouderdom ontvang ‘n bekende sendeling en dominee van die Gereformeerde Kerk, ds. Pieter Kruger, sy doktorsgraad.
"God is besig om die gedagtewêreld en die lewe van misdadigers te verander," vertel ds. Pieter, wat na sy aftrede in 2001 as vrywilliger betrokke geraak by die geestelike versorging van langtermyn gevangenes. Sy tesis vir die D Phil-graad wat op 26 Mei deur die Universiteit van Noordwes (Potchefstroom) aan hom toegeken word, vloei voort uit sy werk by die gevangenis.
"Piet is eintlik ‘n student, maar hy is so toegewyd dat hy altyd net aan sy werk aandag gegee het en eers na sy aftrede met sy doktorsgraad begin het," sê sy vrou, Juliana, wat self ‘n uitnemende taalkundige is. Die Krugers woon al sedert 1975 in die omgewing toe ds. Pieter na die De Hoop Sending van die Gereformeerde Kerk gekom het. Gedurende die laaste kwarteeu van ‘n bediening van 34 jaar het hy in die sending gearbei.
‘n Onderhoud met ds. Pieter ontwikkel in ‘n geleentheid om na ‘n uiteensetting van die Woord van God en die werkinge van die Heilige Gees te luister. Hy begin op sy sagte, simpatieke manier en raak al hoe meer opgewonde oor wat aan die gebeur is. Die prentjie kan sommer in die gedagte gesien word hoe ds.Pieter met die misdadigers gesels oor ‘n lewenswandel wat die Here behaag en ook die siekes daar troos.
Die tema van ds. Pieter se doktorstesis is Dualisme en sinkretisme in die gevangenis: ‘n missiologiese studie. Ds. Pieter verduidelik dadelik dat dit glad nie so ingewikkeld is nie. Dualisme is wanneer daar volgehoue sondige praktyke in jou lewe is, terwyl jy sê dat jy ‘n Christen is. Sinkretisme is wanneer elemente van ander godsdienste vermeng word met Christendom, soos om Christus te bely as Saligmaker en tegelyk die voorvadergeeste aan te hang. Evangelisasiewerk in die tronk word deur hierdie twee sake benadeel.
Daar is ook ‘n positiewe kant aan die prentjie.
"My betrokkenheid van ongeveer ‘n halwe dekade by hierdie mense het my ten minste een ding geleer: Die Here is besig om ook misdadigers tot bekering te bring en tot geloof in Sy genade. Hy gebruik hulle nou om ander te bereik wat die pad van eerbaarheid en reg byster geraak het," sê ds Pieter.
Min mense in die land is nog nie direk of indirek deur misdaad geraak nie. Ds Pieter vra dat gelowiges moet intree vir die misdadigers.
"Daarvoor sal hulle egter vol moet wees van die Gees. Ons leef juis in die tyd waarvan belowe is dat die Gees op kragtige wyse in die kerk sal werk. Geen gelowige mag met enigiets minder as dit tevrede wees nie. Om dit te ervaar, is volhardende gebed egter nodig," sê ds. Pieter.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
