

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 June 2007
Die 74-jarige regter Johan Els word vandeesweek (Donderdag) in Pretoria te ruste gelê, nadat hy verlede Vrydagoggend digby Polokwane in ‘n motorongeluk gesterf het.
Die voertuig waarmee regter Els onderweg was na sy wildplaas tussen Musina en Alldays, het sowat 20km buite die stad omgeslaan.
Regter Els was onderweg na sy plaas met toerusting wat gebruik sou word vir opknappingswerk met die oog op sy aftrede volgende maand. Hy was ‘n bekende en beminde persoon in die omgewing van Musina en het, volgens sy vriende, gretig uitgesien daarna om hom ná sy aftrede permanent op sy wildplaas te kom vestig.
Regter Els, wat in November 1932 in Pretoria gebore is, het aan die Universiteit van Pretoria studeer en as advokaat gepraktiseer voordat hy in 1992 as regter aangestel is. Hy word allerweë beskou as een van die land se mees gedugte hooggeregshofregters en deur sy kollegas hoog aangeslaan vir sy deeglikheid, bekwaamheid en as ‘n deskundige op die gebied van kriminele strafreg. Verskeie hoë-profiel sake het voor hom gedien.
Hy was ‘n uitgesproke voorstander van die doodstraf vir verkragters en moordenaars en het dikwels aanbeveel dat moordenaars en reeksverkragters vir die res van hul natuurlike lewens toegesluit moet word en nooit vir parool in aanmerking behoort te kom nie. Hy het hom sterk uitgelaat teen wetgewing wat dit verpligtend maak om alle vonnisse gelyklopend te maak met lewenslange tronkstraf.
Vir kinderverkagtings het hy maksimum vonnisse opgelê. Nadat hy eenkeer gelees het van ‘n saak waarin ‘n kinderverkragter ‘n opgeskorte vonnis opgelê is, het hy tot die buitengewone stap oorgegaan om vanaf die regsbank ‘n formele versoek aan die Direkteur van Openbare Vervolging te rig om weer na die betrokke saak te kyk. Hy kon onbeholpe aanklaers en advokate nie duld nie en het ook nie geskroom om skerp teregwysings te rig aan die media en aan politici wat rasse-spanning aanhits met uitsprake wat op onvoldoende feite en halwe waarhede berus nie.
Regter Els word Donderdag vanuit die NG Kerk Waterkloof in Pretoria begrawe. ‘n Gedenkdiens vir hom word ook vandeesweek in die Pretoriase Hooggeregshof gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Elaine, twee seuns, Gerhard en Leon, en sy suster Bettie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
