ADVERTISEMENT:

 

Wildboere in die pekel oor beskermde wild

 

News  Date: 01 June 2007

 

Twee bekendes in plaaslike wildboerdery geledere bevind hulle tans in die pekel oor die aanhou van beskermde wildspesies.

Mnre. Howard Knott van die plaas Greater Kuduland naby Tshipise en Anthony Peniston van die plaas Greenfields naby Alldays, het beide reeds in die hof verskyn. Knott se R1 500 borgsaansoek is op 17 Mei toegestaan waarna hy op 18 Mei in die landdroshof op Musina verskyn het. Peniston het op 17 Mei in die landdroshof op Louis Trichardt verskyn.

Knott se verskyning in die hof hou verband met die aanhou van vyf leeus en ‘n luiperd. Beamptes van die Departement Omgewingsake en Toerisme is reeds sedert Desember verlede jaar besig met ‘n ondersoek rakende die leeus.

"Mnr. Knott kon geen permitte of dokumentasie verskaf wat hom magtig om die leeus aan te hou nie. Sy optrede was daarom onwettig aangesien hy nie toestemming gehad het om die leeus aan te hou nie," het mnr. Allan McMurtrie van die Departement Omgewingsake op Louis Trichardt gesê. Hy voeg by dat die saak teen Knott net betrekking het op die onwettige besit van die diere en dat daar geen sprake is dat die diere, volgens gerugte, in swak omstandighede aangehou is nie.

"Toe ons die plaas in Desember besoek het, was die leeus in uitstekende kondisie, gesond en toegemaak in ‘n groot 40ha kamp," sê McMurtrie.

Wat die luiperd-klag betref, sê McMurtrie dat hulle ongeveer twee maande gelede berig ontvang het dat ‘n man op Knott se plaas deur ‘n luiperd gebyt is. Die voorval is opgevolg en bevestig. Weer kon Knott nie enige dokumentasie verskaf wat hom toestemming gegee het om die luiperd aan te hou nie.

Peniston se saak hou weer verband met die onwettige aanhou van vyf jagluiperds. Ook hy kon nie dokumentasie verskaf vir die vang of aanhou van die diere nie. Die diere is aangehou op die grootste gedeelte van die 7 000ha wildplaas. Volgens inligting het Peniston wel aan die begin van verlede jaar twee ander vrylopende jagluiperds wettiglik bekom vanaf die Wes-Kaap.

Knott en Peniston se sake is onderskeidelik uitgestel na 2 en 13 Julie.

"Van die departement se kant af vra ons dat mense moet begin besef dat hulle onder geen omstandighede beskermde wildspesies mag aanhou sonder die nodig permitte en dokumentasie nie. Een of ander tyd gaan hulle met die owerhede te doen kry," het McMurtrie gewaarsku.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines