ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Solomon Sethulama, ‘n werknemer van Hoërskool Louis Trichardt, wys waar die riool uitborrel.

Rioolprobleem by skool veroorsaak gesondheidsrisiko

 

News  Date: 01 June 2007

 

Rioolprobleme wat nie opgelos word deur die Makhado Munisipaliteit nie is besig om ernstige kopsere by Hoërskool Louis Trichardt te veroorsaak.

Die afgelope paar weke het rou riool telkens by die hokkievelde digby die seunskoshuis uitgeborrel. Volgens skoolhoof mnr. Henry Denner sukkel hulle al twee jaar met die probleem. Hy sê hulle het al verskeie kere gekla, maar die probleem word nie opgelos nie.

Die probleem blyk te wees die feit dat die skool en die Louis Trichardt Gedenkhospitaal op dieselfde rioolpypleiding gekoppel is. Denner sê hulle het selfs al gevra dat die twee netwerke van mekaar geskei word. Die setsel verstop aan die hospitaal se kant en veroorsaak dan dat die riool op die skoolterrein uitborrel. Denner sê die probleem is nie net onaangenaam nie, maar plaas ook die leerling en onderwysers se gesondheid in die gevaar.

Die munisipaliteit se Direkteur: Tegniese Dienste was, ten spyte van verskeie pogings om hom te kontak, ongelukkig nie beskikbaar vir kommentaar nie. ‘n Bron binne die munisipaliteit het egter gesê dat die probleem wel veroorsaak word aan die hospitaal se kant, maar dat dit nie vanweë ‘n onvoldoende stelsel is nie. Die bron sê dat as daar gereeld instandhoudingswerk gedoen word, soos dit hoort, sal die verstoppings nie plaasvind nie. Die probleem is egter dat die munisipaliteit se loodgieterspan sukkel om by elke klagte uit te kom. Klaarblyklik is daar ook nog net een bakkie waarmee hulle moet werk. Sou daar probleme op verskillende plekke ontstaan, kan daar nie vinnig na ‘n ander punt beweeg word nie.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines