

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 June 2007
Field & Stream Taksidermie op Louis Trichardt sukkel nou al weke dat die munisipaliteit diere se karkasse by hulle moet kom afhaal. Maandag moes hulle egter hoor dat die munisipaliteit hulle in die verlede net ‘n guns bewys het.
Dié taksidermie is reeds al 23 jaar lank in bedryf en sê daar was nooit tevore ‘n probleem met die verwydering van die karkasse nie.
Een werknemer, Katinka Viljoen, het aan die Zoutpansberger vertel dat die Raad gedurig geskakel moet word om karkasse te kom verwyder. Daar is egter nou weer karkasse wat opgetel moet word, maar nou sê die Raad hulle is nie eintlik verantwoordelik vir die verwydering van die karkasse nie en dat hulle die besigheid ‘n guns bewys om dit te doen.
Dit is egter vir die personeel van die taksidermie baie vreemd, aangesien hulle vir dié "spesiale guns" moet betaal. Die taksidermie was nog altyd afhanklik van die munisipaliteit om die karkasse te kom verwyder, aangesien dit nie soos ander vuilis weggegooi kan word nie, vanweë ‘n moontlike gesondheidsrisiko.
Katinka sê die karkasse is gewoonlik opgelaai en na ‘n verbrandingsoond geneem. Sy sê hulle wou al lankal ‘n eie verbrandingsoond aanskaf, maar hul aansoeke word herhaaldelik van die hand gewys.
Om te bepaal wie nou eintlik verantwoordelik is vir die probleem, het die Zoutpansberger met een van die Raad se gesondheidsinspekteurs, Daniel Mavhungu, gepraat.
Mavhungu het gesê dat die verwydering van karkasse ‘n spesiale diens was wat hulle nie omgegee het om aan die taksidermie te verskaf nie. Die situasie, sê hy, het egter nou verander aangesien nuwe wetgewing rondom omgewingsbewaring persone verbied om enige karkasse of ongewenste materiale in verbrandingsoonde te verbrand nie. Mavhungu sê die oonde dra by tot lugbesoedeling.
Mavhunga het voorgestel dat die besigheid en die Raad se gesondheidsinspekteur saam ‘n oplossing vir die probleem moet vind.
Wat die kwessie rondom betaling vir die diens betref, is genoem dat dit vir normale vullisverwydering was.

ADVERTISEMENT:
