ADVERTISEMENT:

 

ENB kyk na moontlike “bedrogspul”

 

News  Date: 08 June 2007

 

‘n Moontlike bedrogsaak, waarby miljoene rande betrokke kan wees, is by Eerste Nasionale Bank op Musina oopgevlek. ‘n Bedrag van tot R30miljoen word genoem.

‘n Woordvoerder van die SAPD op Thohoyandou, kapt. Mashudu Malelo, sê die polisie dra kennis van die aangeleentheid, maar geen formele klag is nog gelê nie.

Woordvoerders van ENB het bevestig dat ‘n interne ondersoek nog aan die gang is en kliënte gerus gestel dat hulle geen rede het om te vrees vir die veiligheid van hul geld nie.

Mnr. Steve Higgins, woordvoerder by die Eerste Nasionale Bank se bedrog-afdeling, het by navraag bevestig dat tekens van moontlike bedrog drie weke gelede op die lappe gekom het, nadat ‘n ouditeursverslag ongerymdhede op verskeie rekeninge aangetoon het.

Higgins het ook bevestig dat ‘n personeellid van die bank tans van bedrog verdink word en dat die betrokke persoon tydelik geskors is.

Die bedrag geld wat betrokke is en die manier waarop daar te werk gegaan is, kon nie deur Higgins bevestig word nie, maar hy het aan Zoutpansberger gesê dat die ondersoek binne ‘n week of twee meer lig op die aangeleentheid sal kan werp.

Die hoof woordvoerder van Eerste Nasionale Bank, mnr. Xolisa Vapi, het aan Zoutpansberger gesê daar is geen rede vir enige van die bank se kliënte om bekommerd te wees oor dié gebeure nie, aangesien hul geld veilig en onaangeraak sal wees. Vapi sê indien daar wel ‘n probleem op een van hul kliënte se rekeninge sou wees, sal dit dadelik reggestel word. Volgens Vapi het ENB ‘n standpunt van geen verdraagsaamheid ten opsigte van misdaad binne die bank nie en sal alle moontlike stappe gedoen word om die skuldiges te vervolg.

Volgens bewerings op die dorp het ‘n senior personeellid van die bank die dorp verlaat, kort nadat die beweerde grootskaalse onreëlmatigheid aan die lig gekom het.

Die onreëlmatigheid het, volgens hardnekkige gerugte, waarskynlik te make met bedrae geld wat bestem was vir verbandlenings.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines