ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Lukas Swart, voorste kenner op die gebied van misdaadvoorkoming, het op 5 Junie in die Ferdie Beyerssaal gepraat oor hoe om ‘n misdaadvrye Louis Trichardt en omgewing te skep.

Kan die dorp voortou neem teen misdaad?

 

News  Date: 08 June 2007

 

Sal Louis Trichardt een van die plekke wees wat die voortou neem en misdaad ‘n finale knou toedien?

Dit lyk of dit ‘n sterk moontlikheid is nadat ‘n vergadering van Suid-Afrika teen Misdaad (SATM) op 5 Junie in die Ferdie Beyerssaal plaasgevind het. Voortspruitend uit die vergadering sal verteenwoordigers vanuit verskillende sektore ‘n haalbaarheidstudie in hul sektore doen en dan spoedig met SATM onderhandel. Sowat 200 mense het die vergadering bygewoon wat ook deur mnr. André Naudé van die Voorsittersvereniging en Dr Phillip Venter toegespreek is.

SATM is ‘n nie-winsgewende maatskappy wat uit die gemeenskap vir die gemeenskap gestig is om te help met die vestiging van ‘n misdaadvrye samelewing en funksioneer op ‘n nasionale vlak. Mnr. Lukas Swart, voorste kenner op die gebied van misdaadvoorkoming, het die vergadering ingelig dat Louis Trichardt die potensiaal het om een van die leiers op die gebied van misdaadvoorkoming te word.

Opleiding

Opleiding vorm, saam met kommunikasie, sekuriteit en ‘n gemeenskapsbeveiligingsplan, die vier belangrike bene waarop die totstandkoming van ‘n gemeenskap sonder misdaad berus. Die opleiding word gedoen deur Afrika Kriminele en Sosiale Kode Analise (AKSKA). In Afrika word boodskappe met voorwerpe soos krale, klippe, stokke, sakke, takke en blikke in ‘n sistematiese reeks oor ‘n afstand geskryf (Afrika tekens). Dit word gebruik as sosiale kommunikasie, maar ook vir misdaad. Met die nodige inligting is misdaadbedreiging tot vier maande vooruit geïdentifiseer en daar is proaktief opgetree. Daar is klinkklare bewyse dat geweldsmisdaad tussen 94% en 96% afgeneem het waar AKSKA-lede opleiding ontvang het en inligting gebruik het. Die behoefte om die opleiding af te wentel tot die beskikking van elkeen het gelei tot die stigting van SATM.

Kommunikasie

Die verbetering van kommunikasie is belangrik met meer radio’s, ook in stedelike gebiede. Elke persoon sal volgens ‘n bepaalde plan presies weet wat om te doen in die geval van misdaad. Almal sal nie meer soos voorheen gelyk op die misdaadtoneel afstorm en dalk die vastrek van die misdadiger bemoeilik nie. Dit is moontlik om die bewegings van die misdadiger presies te beheer, tot en met sy arrestasie, deur middel van ‘n beheerplan vanuit ‘n gesamentlike operasiesentrum (GOS) en kommunikasie.

Sekuriteit

Mense in die gemeenskap word opgelei om tekens te identifiseer en te onderskei tussen sosiale kommunikasie en misdaad. Dit word beheer vanuit beheerkamers en patrollies wat ondersteun sodat "almal nie heeltyd loop en klippe en blikke kyk nie."

Gemeenskapsbeveiligingsplan

Daar word van dorpswagte, plaaswagte en tegnologie gebruik gemaak om ook ‘n massabedreiging te bestuur. Die planne en stelsels is reeds getoets en werk. Koördinering vind deur middel van ‘n SATM-kantoor op die dorp plaas, in baie noue samewerking met die dorpswag, plaaswag, sekuriteitsmaatskappye en polisie.

Waarop berus misdaad?

Enige misdadiger staan op twee los matjies: die geheim van sy beplanning en die privaatheid om die misdaad te pleeg. Kennis van die tekens wat uitgesit word vir misdaadbeplanning ry die geheim in die wiele en patrollies wat ry spreek die privaatheid van die misdadiger aan.

Wat gaan dit kos?

Elke huisgesin dra R100 per maand by. ‘n Lid van die vergadering het gesê dat sy patrollie ry hom twee tenks brandstof ‘n maand uit die sak jaag. Daar is genoem dat met die samewerking van elke gesin kan die las op ‘n paar verlig word en Louis Trichardt en omgewing kan misdaadvry word. Die dienste wat vir die R100 gebied word, beslaan ‘n lang lys, insluitende ‘n voertuig en twee patrollielede per 500 huise en al die aspekte van die vier bene van SATM.

Mense wat meer inligting wil hê of wil deel hê aan Suid-Afrika teen Misdaad, kan SATM skakel by 072 249 5196, die Belastingbetalersvereniging by 084 910 7654, die Dorpswag by 082 789 3927 of in verbinding tree met die Voorsittersvereniging, plaaswagte of landboustrukture.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines