ADVERTISEMENT:

 

Die afstammelinge van die oorlede skilder CR deWet van Wyk is bekommerd oor die toestand van die skilderye wat die Raad etlike jare gelede vanuit hul ereplek in die publieke oog in die burgersentrum verwyder het. Hier verskyn die twee naamgenote, kleinseun de Wet van Wyk en agterkleinseun Christiaan, by ‘n skildery van hul oupa wat in hul huis hang.

Kommer oor toestand van historiese skilderye

 

News  Date: 08 June 2007

 

Die afstammelinge van die skilder CR de Wet van Wyk is bekommerd oor die toestand van die skilderye wat die Raad etlike jare gelede vanuit hul ereplek in die publieke oog in die burgersentrum verwyder het.

CR de Wet van Wyk, oorlede in 2001 op 83-jarige ouderdom, het vyf groot olieverf skilderye in opdrag van die destydse Louis Trichardt Stadsraad gemaak. Die skilderye beeld die Voortrekkergeskiedenis van die Soutpansberg en hul kultuurbedrywighede uit. Die werke getuig nie net van ‘n besondere kunstalent nie, maar ook van deeglike navorsing.

Hierdie kultuurhistoriese goedere is uit die raadsaal verwyder dieselfde tyd as wat die borsbeeld van Louis Trichardt uit die burgersentrum se portaal verwyder is en saam met grassnyers in die metaalfort, Fort Hendrina, geberg is. Teen die einde van 2005 het die borsbeeld ‘n ereplek gekry in die openbare biblioteek nadat dit op misterieuse wyse uit Fort Hendrina gesteel is en naby die N1 deurpad by ‘n hotel agtergelaat is.

Sedert daardie tyd is veldtogte en versoeke uit verskeie oorde verskerp om die historiese skilderye vanuit hul onbekende bergplek herstel te kry. In ‘n stadium was die skilderye, volgens inligting, geberg in ‘n ongewenste plek waar donker en klammigheid skade sou kon berokken. Daarna is dit in klaarblyklik in die argief geberg.

Mev. Inga Gilfillan van die historiese museum het skrywes gerig aan die Raad. De Wet van Wyk, kleinseun van die skilder, het die saak een en ‘n half jaar gelede by die Raad aangeroer. Na ‘n vergadering met die Voorsittersvereniging en die aanwys van ‘n taakspan, bestaande uit mnr. Peter Magwala en mev. Gilfillan, is daar besluit dat die skilderye sowel as die foto’s van vorige burgemeesters te voorskyn gebring sou word.

Die voorsittersvereniging het " die onsensitiewe en beledigende optrede en hantering van die kultuursimbole van alle groepe" verwerp in ‘n mosie in 2005. Daar is ook genoem dat die reg wat ontneem word om kultuurgoedere te geniet strydig met die Grondwet is. Die jongste stem wat bygevoeg is, is die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, wat ‘n skrywe op 4 April vanjaar aan die Raad gerig het in verband met hierdie kultuurgoedere.

Intussen het De Wet van Wyk al in 2005 ‘n aanbod aan die Raad gemaak om die skilderye terug te koop vir R12 000, dieselfde bedrag as wat destyds betaal is.

"Ek het tot op datum nog geen antwoord op my aanbod ontvang nie," het Van Wyk hierdie week gesê.

Die munisipale woordvoerder, mnr. Magwala, het onlangs eindelik die media se vrae in dié verband beantwoord en gesê dat die skilderye skoongemaak word en in die burgersentrum vertoon sal word.

By aanhore hiervan het De Wet van Wyk sy kommer uitgespreek dat die skilderye dalk met die skoonmaak beskadig kan word.

"Dit is my grootste begeerte om hierdie skilderye terug in die familie se besit te kry. Omdat ek egter nie uitstalruimte het nie, sal ek dit op bruikleen beskikbaar stel, hetsy aan die Raad of by die erfenis museum by Lalapanzi, sodat almal toegang daartoe het."

De Wet en sy seun Christiaan (8) is albei naamgenote van oupa CR de Wet van Wyk. Tuis, op hul plaas Vondeling, het hulle ook skilderye van hul oupa en het graag by een geposeer, sodat die publiek een skildery kan besigtig tot tyd en wyl die vyf bekende skilderye vir die publiek toeganklik word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines