ADVERTISEMENT:

 

Tweede plaasaanvaller tronk toe

 

News  Date: 08 June 2007

 

Lazarus Mathabathe (31), een van die aanvallers van ‘n boer op die plaas Goedgedacht op 17 Mei, 2005, is op Vrydag, 1 Junie, in die streekhof op Louis Trichardt skuldig bevind en gevonnis.

Vier gewapende mans het die plaas betree tydens ‘n gepoogde gewapende roof. Die mans het al die arbeiders op die plaas in die waskamer vasgebind, waarna hulle na die boer se huis toe is.

Mathabathe het die boer probeer skiet, maar sy pistool het gestoor. Die boer het hom toe te lyf gegaan. ‘n Worsteling het ontstaan, waarin die boer Mathabathe se pistool afgeneem het. Tydens die stoeiery het die boer toe probeer om Mathabathe met sy eie pistool te skiet, maar dit het weer gestoor.

Die aanvallers het egter besluit om op die vlug te slaan, nadat die boer later sy eie vuurwapen bekom het en waarskuwingskote begin afvuur het.

Twee van die aanvallers is ná die aanval aangekeer. Peter Khwinana Tsutsa (28) is reeds op 28 Maart vanjaar in die plaaslike streekhof skuldig bevind en tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.

Mathabathe is Vrydag gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf. Hy is verder onbevoeg verklaar om ooit weer ‘n vuurwapen te besit. Die wapen wat tydens die aanval gebruik is, was Mathabathe se eie en is ook verbeurd verklaar aan die Staat.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines