ADVERTISEMENT:

 

Juanri tydens sy diplomaplegtigheid vroeër hierdie jaar.

Oud-Triegie se kortfilm oor “skandes” uitgesaai

 

News  Date: 08 June 2007

 

DSTV-kykers kan gerus hierdie maand op die uitkyk wees vir die kortfilm, Parys se Moses, wat uitgesaai gaan word. Dit is die werk van Juanri Topham, ‘n oud-leerling van Hoërskool Louis Trichardt wat in 2003 gematrikuleer het.

Juanri is dadelik na skool Pretoria toe om B-Tech Rolprentproduksie, oftewel regisseur in eenvoudige terme, aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie te gaan studeer. Tans is hy ‘n finalejaar student aan die betrokke universiteit en besig om sy studies te voltooi.

In 2006 was Juanri een van drie studente van die Rolprent Akademie wie se draaiboeke deur M-Net gekies is om verfilm te word. Juanri het as regisseur en draaiboekskrywer van die kortfilm, asook met die hulp van sy medestudente, die film geproduseer.

‘n Baie opgewonde Juanri het aan die Zoutpansberger vertel dat die kortfilm op kanaal 5 (Movie Magic 2) vertoon gaan word. Dit het reeds op Maandag, 28 Mei, die eerste keer gewys.

Parys se Moses is verlede jaar ook vir drie afsonderlike toekennings by die MPA (Mosie Prent Akademie) genomineer. Dit was vir beste draaiboek, beste regisseur en beste kortfilm.

Parys se Moses handel oor die alledaagse skandes wat in ‘n klein dorpie plaasvind. Die storielyn strek oor ‘n paar dae in die lewe van ‘n desperate, kinderlose paartjie, Attie en Mona, ‘n dominee en sy vervreemde dogter, Alida, en ‘n eensame swanger kroegkelnerin, Annette.

Al die karakters se lewens word omvergewerp wanneer ‘n baba, Moses, gebore word, maar alles is nie altyd so pluis soos wat voorgegee word nie ....

Die film wys weer op kanaal 5 op 10 Junie om 01:15, 16 Junie om 17:25, 19 Junie om 19:00 en 29 Junie om 05:35.

Juanri nooi alle inwoners uit om die kortfilm, wat hy met trots geskryf en vervaardig het, te kyk.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines