

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 June 2007
‘n Bekende inwoner van Buysdorp, mev. Catherine van Schalkwyk, is op 67-jarige ouderdom aan ‘n hartaanval oorlede. Die familie was veral getref deur die uitstekende behandeling by die plaaslike provinsiale hospitaal.
"Ons het op Dinsdag, 22 Mei, by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gekom en my vrou is onmiddellik opgeneem, daar was geen wagtydperk nie. Tot haar sterwe die volgende nag, het die manier waarop hulle ons behandel het en met my gesels het, al my verwagtinge oortref," sê eggenoot, mnr. Simon van Schalkwyk. Vir die dokters wat met sy oorlede eggenoot gewerk het, het hy net die hoogste lof. Ook vir die optrede van die nagverpleegster nadat sy vrou te sterwe gekom het.
Tannie Catherine, beter bekend as Kissy, is op 5 Januarie, 1940, gebore. Nadat sy ‘n kranige naaldwerkster en stoffeerder in Johannesburg was, het sy sowat tien jaar gelede saam met haar man op Buysdorp kom aftree. Tant Kissy en oom Simon het mekaar 50 jaar geken.
"Ons het mekaar in die kerkkoor ontmoet; sy kon pragtig sing. Ons het twee jaar gevry en was 48 jaar getroud. Sy was ‘n hardwerkende vrou en voorbeeldige moeder," sê oom Simon.
Tannie Kissy van Schalkwyk is op 2 Junie om 10:00 vanuit die VGK Mara-gemeente deur ds. Jan van der Westhuizen begrawe.
"Sowat 500 familielede en vriende het kom ondersteun. Ons bedank almal van die VGK Mara, die gemeenskap van Buysdorp, lede van die VGK Eldoradopark in Johannesburg, familie en vriende van Pretoria, Johannesburg en verder, vir hul bystand, gebede en ondersteuning," sê die familie.
Buiten haar eggenoot, laat Catherine van Schalkwyk vier kinders, twaalf kleinkinders en vier agterkleinkinders agter.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
