ADVERTISEMENT:

 

Die jong Alta Otto (19) wat Saterdag in die fleur van haar lewe in ‘n motorongeluk oorlede is.

Swart Saterdag eis talle

 

News  Date: 15 June 2007

 

Te midde van die feestelike atmosfeer wat geheers het tydens die jaarlikse Kremetart-fietswedren, was dit vir baie ‘n swart Saterdag met ‘n reeks gru-ongelukke wat talle inwoners se lewens geëis het.

Mnr. Paul Otto het met groot hartseer vertel van die telefoonoproep wat hy Saterdag ontvang het waartydens hy meegedeel is dat sy sonstraal kind en belowende student, die jong Alta Otto (19), in ‘n motorongeluk op ‘n grondpad tussen Secunda en Evander oorlede is. Die voertuig waarin Alta en twee vriendinne gereis het, het omgeslaan en gerol. Haar twee vriendinne het ligte beserings opgedoen. Alta, wat in die passasiersitplek gesit het, is egter op slag dood toe haar kop tydens die rolslag ‘n klip getref het.

Mnr. Otto vertel dat die polisieman wat hom geskakel het, binne twee minute na die ongeluk op die toneel was. Hy het dadelik begin met hulpverlening aan die beseerdes. Daar was egter niks wat hy vir Alta kon doen nie. Die polisieman het die familie se besonderhede bekom danksy ‘n Crisis on Call-kaartjie wat Alta by haar gedra het.

"My vrou en my dogters het altyd die kaartjies by hulle vir ingeval hul voertuie êrens langs die pad breek of vir enige ander noodgevalle," het Otto gesê. Hy voeg by dat vrou, Rosetta, dadelik na die skoknuus na Evander gery het om hul dogter se liggaam te gaan uitken. Alta het in 2006 by Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer, waarna sy Hotelbestuur by die Centurion Akademie gaan studeer het.

In nog ‘n ongeluk Saterdag is die 19-jarige Jonathan Denning op slag dood, nadat sy klein Ford Fiesta waarin hy op reis was, tromp-op met ‘n toerbus gebots het. Die ongeluk het sowat een kilometer buite Louis Trichardt op die Thohoyandou-pad plaasgevind. Die jong Denning was onderweg na Levubu. Die gru-ongeluk, waarin Denning se voertuig amper onherkenbaar verwoes is, het omstanders verslae gelaat.

Volgens insp. Ndwamato Vele, plaaslike polisiewoordvoerder, is die busbestuurder vir ligte beserings in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal behandel en dieselfde dag ontslaan.

‘n Gru-ongeluk het ook Saterdag die lewe geëis van die 28-jarige Casper Johannes Lourens van Komatiland Plantasies. Lourens is dood nadat die bakkie waarin hy gery het binne die plantasie teen ‘n aankomende vragmotor gebots het. Die ongeluk het op ‘n draai plaasgevind. Insp. Elliot Nemavhulani, polisiewoordvoerder op Levubu, het gesê die twee bestuurders het mekaar nie gesien nie en dit blyk dat die ongeluk onvermydelik was. Die oorledene is oorspronklik vanaf Natal afkomstig. Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie.

‘n Derde tromp-op botsing tussen twee bakkies het Saterdag ook twee ander lewens geëis op die N1 suid. Talle is beseer. Volgens Insp. Zwidofhela Emmanuel Ramabulana, polisiewoordvoerder op Bandelierkop, het die ongeluk tussen die Adam’s Apple en Lalapanzi hotelle plaasgevind Insp. Ramabulana het gesê beide bestuurders van die bakkies is op die toneel dood.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines