

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 June 2007
Vier onwettige jagters is Woensdag, 6 Junie, swaar vonnisse opgelê in die landdroshof op Louis Trichardt na hulle daaraan skuldig bevind is dat hulle op Saterdag, 31 Maart, ‘n njala en rooibok op ‘n plaas in die Mara-omgewing gejag het.
Die vier is Johannes Henry de Klerk (38) van Polokwane, Deon Fortuin (44) van Mara, Anthony Buys (37) van Middelburg en Clifford Buys (33) van Pietersburg.
Die waarde van die gejagte njala beloop sowat R8 000 en die rooibok sowat R700. Die hof het elk van die vier ´n boete van R10 000 of gevangenisstraf van drie jaar opgelê. De Klerk, Fortuin en die twee Buyse is ‘n verdere 12 maande gevangenisstraf opgelê, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar, onderhewig aan twee voorwaardes.
Die eerste voorwaarde is dat nie een van die vier weer op soortgelyke klagte binne vyf jaar skuldig bevind word nie en die tweede voorwaarde is dat die vier elk ‘n bedrag van R2 175 aan die boer op wie se grond daar gejag is, moet betaal as skadevergoeding. Die hof het beslis dat die vergoeding dadelik aan die plaaseienaar oorbetaal moes word, terwyl die geld vir die boete oor ‘n tydperk van ses maande afbetaal kan word teen ‘n maandelikse bedrag van R1 500. Op die sesde maand sal daar egter van die skuldiges verwag word om ‘n bedrag van R2500 aan die staat te betaal vir die finale vereffening van die boete. Indien die skuldiges te enige tyd versuim om die boete maandeliks te betaal, sal die vonnis van gevangenisstraf in werking tree.

ADVERTISEMENT:
