

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 June 2007
Inwoners van Louis Trichardt en omgewing sal hulle vir die volgende drie agtereenvolgende Sondae moet voorberei vir elektriese kragonderbrekings wat bykans die hele dag sal duur.
Luidens ‘n nuusvrystelling deur die Makhado Munisipaliteit noodsaak die werk aan twee groot kragprojekte hierdie onderbrekings, wat van 07:00 tot 17:00 op 24 Junie, 1 Julie en 8 Julie sal voorkom. Die munisipaliteit waarsku egter dat die elektrisiteit na sekere dele van die netwerk dalk vroeër of selfs later as die vermelde tyd herstel kan word.
Benewens groot gedeeltes an Louis Trichardt, sal die Levubu en Valdesia-areas ook deur die onderbrekings geraak word. Verbruikers word versoek om geduldig te wees, aangesien die twee projekte onderneem word om die betroubaarheid te verbeter van die plaaslike netwerk wat Levubu en Louis Trichardt bedien. By voltooiing sal die projekte meehelp om ‘n stabiele kragtoevoer vir die toekoms te verseker.
Die twee projekte behels die vergroting van die drakrag van die bestaande hooftoevoerlyn na die dorp en die algehele vervanging en opgradering van die kraglyn wat die Levubu-area bedien.
Luidens die mediaverklaring benut die hooftoevoerlyn na die dorp reeds sy maksimum drakrag. Dit is noodsaaklik dat dié lyn versterk moet word met bykomende drakrag om voorsiening te maak vir voortgesette ontwikkeling en uitbreidings op die dorp.
Die 66kV transmissielyn wat die Levubu area bedien, is meer as 30 jaar oud en moet nou vervang word, aangesien dit die einde van sy realistiese lewensverwagting bereik het. Die projek behels die herroetering, herbou en versterking van dié kraglyn en het reeds die tweede fase bereik, wat na verwagting teen die einde van Julie voltooi sal wees. Die derde fase van hierdie projek behels die opgradering van die Beaufortsubstasie sowel as ‘n nuwe invoerpunt by die Elim-Ribolwa-substasie.
Die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. M. Mapholi, sê die samewerking van alle inwoners sal hoog op prys gestel word, om die munisipaliteit in staat te stel om hierdie noodsaaklike projekte in die beste belang van alle inwoners en tot voordeel van alle verbruikers te voltooi.
Eerskomende Sondag sal die kragonderbreking van 07:00-17:00 die hele Louis Trichardt dorp raak, behalwe Uitbreiding 7, Uitbreidings 2 en 9 Noord van Bauhiniastraat, Eltivillas, die swaar- en ligte-nywerheidsgebiede en ‘n gedeelte van die sentrale sakegebied. Alle verbruikers in die Levubu- sowel as die Valdesia-areas sal eweneens deur die kragonderbreking geraak word.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
