ADVERTISEMENT:

 

Jagter onregmatig aangehou, maar eis slaag nie.

 

News  Date: 22 June 2007

 

‘n Professionele jagter wat verlede jaar onregmatig gearresteer en aangehou is, se R5 miljoen eis teen die Minister van Veiligheid en Sekuritiet het nie geslaag nie.

Mnr. Jaco Scott (33) het ‘n eis teen die minister ingestel, nadat hy verlede jaar onregmatig by die Horse Shoe Pub & Grill in Musina gearresteer is. Mnr. Scott het in sy private hoedanigheid ‘n bedrag van R1,1 miljoen geëis, terwyl hy as die uitvoerende hoof van Scottco African Safaris ‘n bedrag van R5 miljoen geëis het.

Scott het beweer dat inwoners van die dorp hom aangerand het by die gewilde kuierplek. Polisielede het kort daarna op die toneel aangekom en hom gearresteer omdat hy volgens hulle ‘n vuurwapen onder die invloed van alkohol hanteer het.

Scott het vroeg die volgende dag in die Musina landdroshof verskyn, waarna die saak teen hom teruggetrek is.

Scott het ontken dat hy tydens die arrestasie dronk was, terwyl die minister weer op sy beurt ontken het dat Scott onregmatig gearresteer is.

Die minister het aangevoer dat lede van die polise gereageer het op ‘n klag dat skote by die kuierplek afgevuur is en dat daar op Scott afgekom is waar sy vuurwapen ontbloot was.

Volgens inligting het die polisie na bewering die aand nog ‘n man in hegtenis geneem wat skote geskiet het.

Volgens hofstukke het Scott tydens die voorval ‘n Amerikaanse jaggeselskap by hom gehad wat ‘n olifant in Zimbabwe sou gaan jag het. Die jag is na die voorval gekanselleer.

By die betrokke jaggeselskap was die stigter en redakteur van ‘n Amerikaanse tydskrif wat Scott se bemarking in die VSA doen.

In die Pretoriase Hooggeregshof het Regter Ben du Plessis bevind dat dit wel so is dat Scott tydens die voorval onregmatig aangehou is, maar hy het gesê dat Scott in ‘n tipiese kroeggeveg by die Horse Shoe Pub en Grill in Musina betrokke geraak het.

Du Plessis het verder bevind dat Scott vir die besit van ‘n vuurwapen, terwyl hy onder die invloed van drank was, gearresteer is en dat die ou wetlike bepalings rondom die hantering van vuurwapens en ammunisie nog van krag was. Volgens dié wet is dit ‘n misdryf as ‘n persoon ‘n vuurwapen hanteer terwyl hy onder die invloed van drank is.

Dit is egter nie ‘n oortreding as ‘n persoon bloot die wapen besit terwyl hy onder die invloed van alkohol is nie.

Regter Du Plessis het bevind dat die polisieman die wapen uit Scott se holster gehaal het. Hy het bygevoeg dat hy nie Scott se weergawe glo dat hy op bevel van die polsieman sy wapen uitgehaal het nie. Scott het egter steeds nie die wet oortree nie, aangesien hy geen opset gehad het om die wapen te hanteer nie.

Du Plessis het bevind dat, alhoewel Scott se arrestasie en aanhouding nie regmatig was nie, hy nie die eis sal toestaan nie.

Die hof het egter die minister beveel om die kostes van die hofgeding te betaal.

Die Zoutpansberger het Scott geskakel vir kommentaar oor die hof se beslissing, maar hy wou nie veel sê nie. Hy het egter bygevoeg dat verkeerde feite in die media gerapporteer is en dat daar wel ‘n bedrag is wat uitbetaal sal word as skadevergoeding. Hy het verdere navrae na sy prokureur, mnr. GP Venter, verwys. Teen druktyd was mnr. Venter egter nie beskikbaar om kommentaar te lewer nie.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines