ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Herman Smith van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging(SBBV) staan by die brug waaronder ‘n rioolrivier deurloop in die rigting van die dam by tenk E waar boorgate voorkom wat water na die reservoirs pomp vir drinkwater vir die dorp.

Raad sê rioolprobleem gaan aangespreek word

 

News  Date: 22 June 2007

 

Duisende liters rou riool wat daagliks wes van die dorp in die veld uitloop, wek steeds kommer, maar die Makhado Munisipaliteit is vol vertroue dat hulle gebeurlikheidsplanne in plek het om die probleem aan te spreek.

´n Rou rioolrivier loop vir die afgelope jaar vanaf die treinspoor, wes van die industriële gebied, deur die veld vir etlike kilometers. Dit gaan onder deur die brug wat sowat twee kilometer vanaf die dorp op die Sinthumule pad geleë is. Daarvandaan is dit net 200 meter of minder na die dam by tenk E, met omliggende boorgate wat water na die reservoirs pomp vir drinkwater vir die dorp.

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het ondersoek ingestel na klagtes van die stank by die brug en vasgestel dat dit deel is van dieselfde stroom riool wat in Maart in die Zoutpansberger gerapporteer is. Visvrektes in die dam by tenk E is ook gerapporteer.

Die rioolrivier wes van die treinspoor, ongeveer een kilometer suid van Malherbestraat, het in piektyd 35 000 liter per uur getoets, wat 840 000 liter per dag sou kon gee wat wegvloei. "Dit sou meer as twee en ‘n half miljoen liter ‘n maand kon gee. Ons ondersoek hierdie week het aan die lig gebring dat die stroom riool wat onder die treinspoor uitborrel nog net so sterk loop. Volgens besighede wat naby geleë is, gaan dit al jare so aan. Sommige meen dat dit van die maksimum sekuriteit gevangenis af kan kom," sê mnr. Herman Smith van die SBBV.

Die Raad het op 19 Junie by monde van die amptelike woordvoerder, mnr. Peter Magwala, gesê dat tydelike maatreëls in plek geplaas sal word om die stroom rioolwater vanaf die treinspoor te beheer.

Verder het die Raad belowe dat die opgraderingsproses by uitbreiding 9, Eltivillas en die Sinthumule/Kutama maksimum sekuriteit gevangenis tans aan die gang is. "Vhembe-distrik het ook voorsiening in hul begroting gemaak vir die opgradering van die Eltivillas pompstasie, wat ook ‘n impak sal hê op die SACM-sisteem. Die papierwerk word nou gedoen om die projek te loods," het mnr Magwala gesê.

Die Department van Waterwese en Bosbou het op hul beurt voorsiening gemaak vir die opgradering van die Vlei pompstasie.

"Al hierdie maatreëls sal uiteindelik lei tot die verbetering en opgradering van die rioolsisteem. Ons het ‘n addisionele R15 000 000 aangevra het vir die opgradering van die totale sisteem," het Magwala gesê.

Die belastingbetalers meen egter steeds dat hulle nie ernstig genoeg opgeneem word nie. Die uiteindelike opgradering van die rioolsisteem is begroot vir die 2008/2009 belastingjaar.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines