ADVERTISEMENT:

 

Jagter eis R6 miljoen na onregmatige arrestasie

 

News  Date: 29 June 2007

 

‘n Eis van altesaam meer as R6 miljoen vir die onregmatige arrestasie en aanhouding van ‘n beroepsjagter op Musina kan ontwikkel in ‘n waterskeidingsaak.

Vroeër is berig dat regter Ben du Plessis in die Pretoriase Hooggeregshof bevind het dat die 33-jarige beroepsjagter, mnr. Jaco Scott, wel onregmatig in hegtenis geneem en aangehou is, maar dat Scott se eis teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit nie toegestaan is nie. Scott se regsverteenwoordiger, mnr. George Venter, het in ‘n telefoniese onderhoud met Zoutpansberger daarop gewys dat die regsvrae oor die Minister se aanspreeklikheid en die eis self vooraf van mekaar geskei is.

In die Pretoriase Hooggeregshof het regter du Plessis bloot oor die vraag in verband met Scott se arrestasie en aanhouding ‘n bevinding gemaak. Die eis is hoegenaamd nie in die betrokke saak gehanteer nie. Die huidige uitspraak beteken dat die Minister wel aanspreeklik is vir die onregmatige optrede teen Scott. Die Minister is ook gelas om Scott se regskoste vir die Hooggeregshofsaak te betaal. ‘n Afsonderlike hofgeding waarin Scott se eis behandel sal word en die omvang van skadevergoeding deur die Hof vasgestel moet word, sal eersdaags volg.

Mnr. Venter het bevestig dat ´n verhoordatum vir dié nuwe hofsaak nou vasgestel word.

Scott, uitvoerende hoof van Scottco African Safaris, eis R6,1miljoen van die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, nadat hy verlede jaar op Musina onregmatig in hegtenis geneem en aangehou is, tydens ‘n voorval by die gewilde kuierplek Horse Shoe Pub & Grill. Scott sê inwoners van die dorp het hom by die kuierplek aangerand. Polisielede wat kort daarna op die toneel was, het hom toe in hegtenis geneem op ‘n aanklag dat hy ‘n vuurwapen hanteer het terwyl hy onder die invloed van drank was. Hy is oornag aangehou en die volgende dag is die saak teen hom in die hof teruggetrek. Hy het ontken dat hy dronk was.

In die hofsaak het die Minister aangevoer dat lede van die polisie gereageer het op ‘n klag dat skote by die kuierplek afgevuur is. Toe hulle op die toneel aankom, het hulle Scott daar aangetref. Hy was gewapen. Regter du Plessis het bevind dat Scott in hegtenis geneem is vir die besit van ‘n vuurwapen terwyl hy onder die invloed van drank was. Volgens die toepaslike wet is die blote besit van ‘n vuurwapen onder sulke omstandighede nie ‘n oortreding nie. Dit is ‘n misdryf as ‘n persoon ‘n vuurwapen hanteer tewyl hy onder die invloed is. Regter du Plessis het bevind die polisieman het die wapen uit Scott se holster gehaal. Selfs al sou Scott op bevel van die polisieman die wapen uitgehaal het, sou hy steeds nie die wet oortree het nie, aangesien hy geen opset gehad het om die wapen te hanteer nie.

Volgens inligting het die polisie die betrokke aand ‘n ander man in hegtenis geneem in verband met die afvuur van skote.

Volgens hofstukke het Scott tyens die voorval ‘n Amerikaanse jaggeselskap by hom gehad, wat ‘n olifant in Zimbabwe sou gaan jag. Dié jagtog is ná die voorval gekanselleer.

By die betrokke geselskap was ook die stigter en redakteur van ‘n Amerikaanse tydskrif wat Scott se bemarking in die VSA doen.

Scott eis R1,1miljoen in sy persoonlike hoedanigheid, terwyl hy in sy hoedanigheid as die uitvoerende hoof van Scottco African Safaris ‘n bedrag van R5miljoen van die Minister eis.

‘n Reeks klagtes van onregmatige optrede deur polisie, veral ook in die noordelike gedeeltes van Limpopo, op Musina, Louis Trichardt en Levubu was vroeër aanleiding tot ‘n dringende omsendbrief van die Suid-Afrikaanse polisiehoof aan alle polisielede om hulle te weerhou van sulke onregmatige optrede. Slagoffers van voortgesette onwettige optredes sal noodwendig die uitslag van Scott se eis met groot belangstelling afwag.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines