ADVERTISEMENT:

 

Een van die twee fietsryers wat Maandagoggend in ‘n botsing met ‘n motor beseer is, Antoinette Pieters, terwyl sy aansterk in die Zoutpansberg Privaathospitaal. Die ander beseerde, Helena Mellet, is in die Polokwane Privaathospitaal geopereer vir drie breuke aan die reg-terarm.

Fietsryers op N1 raakgery

 

News  Date: 29 June 2007

 

Twee fietsryers is raakgery op die N1 na Polokwane en sterk tans aan na die ongeluk.

Fietsryers Antoinette Pieters en Helena Mellet het albei beserings opgedoen nadat hulle op Maandagoggend (25ste), omstreeks sewe-uur in ‘n botsing betrokke was.

Helena is in die Polokwane Privaathospitaal geopereer vir drie breuke aan haar regterarm, terwyl Antoinette in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem is vir kneus- en skaafplekke. Antoinette was gelukkig om sonder enige breuke van die botsing af te kom.

Die twee fietsryers het in enkelgelid gery, met Antoinette voor op ‘n padfiets en Helena agter haar op ‘n bergfiets. Hulle het aan die linkerkant van die geel streep gery en was by die opdraande gedeelte net voor die telekommunikasie toring, agt kilometer suid van Louis Trichardt. Klaarblyklik het ‘n Toyota Cressida in Antoinette vasgery, waarna Helena in die voorste fiets vasgery het en van haar fiets afgeval het. Met die val het sy die ernstige breuke in die arm opgedoen.

Antoinette het met die stamp oor haar fiets getrek, deur die lug gevlieg en rollend op die pad te lande gekom. "Ek het orals seer, maar niks ernstig is verkeerd nie. Ek is die Here dankbaar," het Antoinette op Dinsdag gesê.

Sy was ook bly dat die bestuurder van die motor teruggedraai het en na die toneel gekom het. "In daardie stadium het dit vir my gevoel of my rug heeltemal af is. Ek het vir die man gevra ‘Waarom het jy dit gedoen?’ "

Die fietsryers is vol lof vir die omstanders op die toneel wat hulle met deernis kom bystaan het. "Almal was so gaaf. Die polisie en die ambulans was vinnig daar," sê Antoinette.

Albei slagoffers is eers na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem, waarna Helena oorgeplaas is na Polokwane.

Helena het Dinsdag gesê dat ysterpenne in haar arm geplaas is tydens die operasie wat sy Maandagaand ondergaan het. "Ek het ‘n breuk bo my elmboog, die elmboog self is gebreek en dan het die gewrig ook gebreek."

Die plaaslike polisiewoordvoerder, Inspekteur Nelwamato Vele, het bevestig dat die SAPD Makhado ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur ondersoek wat Maandag naby die Fort Edward afdraai plaasgevind het.

Die voorsitter van die plaaslike fiestryklub, Heine de Jager, het gesê dat die P&L Hardeware Fietsryklub per capita die grootste fietsryklub in die land is. De Jager het ‘n beroep gedoen op padgebruikers om bewus te wees van die baie fietsryers op die paaie. Die klub maak altyd ‘n punt daarvan om fietsryers te maan om sigbare kleure aan te hê en liggies te dra. Die woordvoerder van die klub het ook genoem dat die oranje en geel veiligheidsbeffies teen R7 by Safety First beskikbaar is.

Antoinette het gesê dat, ten tye van die ongeluk, hulle liggies agter op hulle fietse geflikker het en dat hulle helder kleure gedra het.

Op ‘n vraag of hulle weer sal fietsry, het Helena vanuit Polokwane geantwoord dat sy nog nie regtig afgeskrik is van fietsry nie, maar dat sy nou maar skrikkerig vir die N1-ryery is.

Antoinette, wat by die plaaslike privaathospitaal oorval is deur besoeke van mede-fietsryers en vriende, het gesê dat sy definitief weer gaan fietsry.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines