

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 June 2007
‘n Gyrokopter om misdaad in die omgewing te bekamp, is ‘n moontlikheid wat die omgewing so ‘n hoë-risiko area vir misdadigers kan maak dat hulle eerder die omgewing sal vermy.
Die Voorsittersvereniging(VV) het die voorstel ter tafel gelê by ‘n vergadering met direkteure van die Makahdo Munisipaliteit op 8 Mei.
Die implementering van die gyrokopter is baie belangrik vir ’n misdaadvrye omgewing. "Die gyrokopter gaan op ongeskeduleerde tye rondvlieg om misdaad te beheer. Die misdadigers sal nie weet wanneer die vlugte gaan wees om hulle misdaad daarvolgens te beplan nie. Met grond radiobeheer en die gyrokopter in die lug, sal misdadigers wat met voertuie opereer se kans om weg te kom baie skraal wees," sê mnr. André Naudé, voorsitter van die VV. Die idee het oorspronklik ontstaan by mnr. Wouter Meintjies van die plaaswag van Bluegumspoort.
Die gyrokopter sal ongeveer R20 000 per maand kos om in die lug te hou en te onderhou, insluitende die vlieënier se vergoeding. "Dit is nog heelwat minder as die R300 000 per maand wat gesteelde transformators die munispaliteit kos. Met die gyrokopter sal sulke diewe nie kan wegkom nie," sê mnr. Naudé.
"Die plan van die gyrokopter is nog in die beginstadium. Dit is reeds voorgelê aan direksies by banke vir oorweging ten opsigte van finansiering," sê Naudé.
‘n Taakspan, bestaande uit mnr. Peter Magwala, Direkteur: Gemeenskapsdienste, en mnr. Herman Smith van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) is aangewys om die saak te ondersoek.
Die SBBV het die saak weer aangeraak in ‘n skrywe aan die munisipaliteit, gedateer 23 Mei. Daarin is genoem dat koperkabeldiefstal hierdie jaar alreeds R1.1 miloen gekos het. "Die gyrokopter sal ‘n oog in die lug wees wat sien wat aangaan ten opsigte van misdaad, verkeer, voertuie, ongelukke, brande, koper- en ander diefstal, selfs in die nag. Daar kan vinnige reaksie op enige noodgeval wees… ‘n Tweesitplek gyrocopter sal in die omgewing van R520 000 kos en bedryfskoste en die vlieënier omtrent R300 000 per jaar," lui die skrywe.
Die munisipale woordvoerder, mnr. Peter Magwala, wat ook deel van die taakspan is, het verlede week gerapporteer dat die taakspan nog met verskeie rolspelers sal ontmoet. Dit sal geskied in vennootskap met die georganiseerde besigheidsektor, die privaatsektor en verskillende bronne van befondsing sal ondersoek word. Na die span se ontmoeting met rolspelers, "sal ‘n konkrete voorstel aan die Raad voorgelê word," lui ‘n munisipale verklaring, gedateer 20 Junie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
