ADVERTISEMENT:

 

Polisie-optrede na Levuburoof gekritiseer

 

News  Date: 29 June 2007

 

Omstrede polisie-optrede ná ‘n gewapende rooftog verlede week op Levubu sal op hoë vlak ondersoek word.

Die SAPD se stasiebevelvoerder op Levubu, Superintendent Makhuva, staan in die middelpunt van ernstige omstredenheid na aanleiding van sy beweerde inmenging in die ondersoek na ‘n gewapende rooftog vroegoggend. Tydens dié rooftog het vier gewapende mans weggekom, nadat hulle na bewering ‘n boer en een van sy werkers geterroriseer en vasgebind in ‘n kluis toegesluit het, voordat hulle met ‘n aansienlike bedrag geld en die boer se voertuig ontvlug het.

Na bewering is daar tevergeefs probeer om die SAPD op Levubu te kontak. ‘n Werker moes glo op die ou end die polisie fisies gaan haal.

Die boer, mnr. Johan Furstenburg van die plaas Brazillia op Levubu, bedryf piesang rypmaakkamers saam met ‘n vennoot.

Die rooftog het na bewering omstreeks 05:30 op Donderdag, 21 Junie, plaasgevind.

Mnr. Furstenburg is glo ná die voorval na die polisiestasie ontbied, waar die stasiebevelvoerder – nie die ondersoekbeampte nie – hom na bewering op ‘n intimiderende wyse ondervra en hom allerlei beskuldigings en in ‘n stadium ook ‘n dreigement sou toegevoeg het.

Nóg die polisie se kommunikasiebeampte op Levubu, nóg die streekskantoor op Thohoyandou het enige inligting oor dié ernstige misdaadvoorval aan die media beskikbaar gestel. Die kantoor op Thohoyandou het ‘n navraag na die provinsiale kantoor in Polokwane (Pietersburg) verwys.

Die provinsiale kommunikasie-afdeling van die SAPD in Polokwane het by navraag bevestig dat hulle bewus is van die voorval en ook kennis geneem het van klagtes oor die polisie-optrede.

Senior Superintendent Ronel Otto van die Provinsiale kantoor het gesê die aangeleentheid word onder die aandag van die Provinsiale Kommissaris gebring. "Alle omstandighede rondom die hele aangeleenthgeid sal ondersoek word," het sy vandeesweek gesê.

Intussen het die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, in ‘n mediavrystelling sy skok uitgespreek oor die voorval. Hy het die huidige stand van sake op Levubu vergelyk met die onhoudbare situasie wat opgebou het tot die opsienbarende De Jager-moord en gesê dieselfde indringende ondersoek en ingrypende optrede wat destyds in opdrag van die toenmalige LUR vir Veiligheid en Sekuriteit plaasgevind het, is opvallend nou weer dringend nodig "om ’n uitbarsting van gemeenskapswoede te voorkom."

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines