ADVERTISEMENT:

 

Polisie tree flink op na plaasaanval

 

News  Date: 29 June 2007

 

‘n Plaasaanval op die plaas Nooitgedacht is verlede week afgeweer toe die huishulp betyds om hulp geskreeu het, nadat sy gewapende mans die huis sien nader het.

Die huishulp wat vir Debbie Boshoff en haar suster, Sanette Goosen, werk, het verlede week Dinsdag vyf gewapende mans met maskers die huis sien nader.

Volgens Sanette was dit reeds vroeg die aand met hul aankoms by die plaas en was hulle besig om met die plaaspad op te ry toe hulle die huishulp by die huis sien uithardloop het.

Sanette sê die bediende het dadelik vir die tuinier geskreeu wat besig is om te gebeur. Die tuinier, saam met ander arbeiders en die plaaseienaar, het die mans verjaag. Die polisie is dadelik geskakel.

Sanette sê die polisie se reaksie was baie vinnig, veral as mens in ag neem dat hulle eers effens verdwaal het op pad na die plaas toe.

Kort ná die polisie se aankoms was Paul Herman van die Waterpoort plaaswag ook op die toneel vir bystand.

Sanette sê die polisiemanne het dadelik met ‘n ondersoek begin. Vreemde voetspore – vermoedelik dié van die aanvallers - is gevind.

Die polisie is in die bosse in om te kyk of hulle enigiets daar kon sien en is weer terug om verklarings te neem.

Die huishulp het vir hulle die wapens beskryf wat die aanvallers by hulle gehad het. Dit sluit pangas en aanvalsgewere in.

Die volgende dag het die polisie se honde-eenheid en forensiese deskundige die ondersoek op die plaas kom voortsit.

Sanette sê dit is werklik ‘n bewys is van ‘n polisiediens wat tog mense wil help, veral met plaasaanvalle.

"Dit was nog nie al nie. Die polisie was die Vrydag, Saterdag en Sondag weer op die plaas gewees, waar hul voertuie die plaas gepatrolleer het. Die inspekteur wat Saterdag op die plaas was, het homself as Paulus kom bekendstel en sy selfoonnommer aan ons gegee met die versoek dat ons hom enige tyd in die dag of nag kan skakel as ons enige onraad bemerk," het Sanette gesê.

Beide Sanette en Debbie sê hulle is ontsettend dankbaar vir die vinnige polisie-optrede en die professionele manier waarop die saak hanteer is.

Volgens Sanette is die feit dat die polisie gereeld ná die voorval op die plaas was ‘n bewys dat daar tog ‘n poging aangewend word om mense te beskerm en misdaad te beveg.

Hulle wil ook vir Paul Herman en Charl Venter bedank vir hul bystand tydens die voorval.

Volgens Insp. Vele, die polisie se skakelbeampte, sal die polisie tot die beste van hul vermoë werk om die veiligheid van elke inwoner binne hul polisiëringsgebied te verseker. Volgens insp Vele beteken die dankbetuiging van die plaasinwoners vir hom en ander polisiebeamptes baie en is dit lekker om waardering vir hul werk te kry.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines