

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 June 2007
Drie mense is dood en vier is ernstig beseer in twee afsonderlike padongelukke op die N1 noord, tussen Louis Trichardt en Musina.
Verkeersvloei op die N1 suid van Musina is verlede week Maandag vir ‘n geruime tyd ontwrig, toe ‘n bakkie met vier insittendes in die vroëe oggendure reg van voor teen ‘n swaar vragmotor gebots het. Twee mense het in dié ongeluk gesterf. Die bestuurder van die bakkie, mnr. Revolution Moyo (23) van Zimbabwe, is op die ongelukstoneel dood. Die drie passasiers van die bakkie is in die hospitaal op Musina opgeneem, waar mnr. Alfred Phiri (34) Woensdagoggend beswyk het. Die ander twee passasiers is nog in die hospitaal. Hul toestand is steeds ernstig.
Volgens die SAPD se woordvoerder op Musina, Konstabel Debora Bob, word vermoed dat die bakkie probeer het om drie swaar vragmotors verby te steek. Die bestuurder kon vermoedelik nie gou genoeg terugkeer na sy eie baan nie en het reg van voor teen ‘n aankomende swaar vragmotor gebots.
Die bestuurder van die vragmotor is ook in die hospitaal opgeneem, met minder ernstige beserings.
Intussen ondersoek die polisie op Louis Trichardt ‘n saak van strafbare manslag ná ‘n ongeluk wat voorverlede Vrydag naby Wylliespoort voorgekom het.
Een van die vier passasiers in die voertuig – ‘n Jeep Cherokee – is op slag dood en twee is met besering in die Louis Trichardt hospitaal opgeneem, nadat die voertuig omgeslaan en in die bosse langs die N1beland het.
Een van die passasiers was ongedeerd.
Volgens ‘n polisiewoorvoerder, kapt. Maano Sadike van Louis Trichardt, was die voertuig vermoedelik vanuit ‘n oostelike rigting op pad, toe dit buite beheer geraak en omgeslaan het.
Die ondersoek duur voort.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
