ADVERTISEMENT:

 

Man sterf na skietery by Tshipise-oord

 

News  Date: 29 June 2007

 

Borgvoorwaardes is verslap om die bejaarde beskuldigde in die noodlottige skietvoorval by die Tshipise vakansieoord toe te laat om sy regsverteenwoordiger in Gauteng te besoek.

Die beskuldigde, Diederick Johannes Moller, wat volgens die polisie op Musina 70-jaar oud is, is van Sasolburg. Hy is in die landdroshof op Musina aanvanklik borgtog van R3 000 toegestaan, nadat hy in hegtenis geneem is in verband met die dood van sy vriend, die 67-jarige Pieter Francois Nel, ook van Sasolburg.

Volgens die oorspronklike borgvoorwaardes moes Moller in die landdrosdistrik van Musina aanbly vir sy volgende hofverskyning op 20 Julie.

Die saak spruit voort uit ‘n voorval omstreeks 20:30 verlede Woensdagaand op die kampeerterrein by Tshipise.

Volgens voorlopige verslae was daar die aand ‘n heftige rusie tussen die oorledene en sy vriendin, wat toe oorgevlug het na hul huisvriende, die Mollers.

Nel sou toe na bewering met ‘n .22 handwapen daar opgedaag en gedreig het om die vrou en die Moller-egpaar dood te skiet.

Na bewering het Moller toe skote met sy .38 handwapen afgevuur. Nel is noodlottig beseer en het op die toneel beswyk.

Die beheeraanklaer in die distrikshof op Musina, mnr. Edward Pesulo, het by navraag bevestig dat die aanvanklike borgvoorwaardes tydelik verslap is vir ‘n week om Moller die geleentheid te gee om met sy regsverteenwoordiger in Gauteng te konsulteer.

Intussen duur die polisie-ondersoek na die voorval voort en word die uitslag van die nadoodse ondersoek volgende week verwag.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines