

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 June 2007
Verdere intensiewe toetse is vandeesweek in Pretoria uitgevoer op die 12-jarige Vinette van Heerden van Louis Trichardt, wat verlede week tydens ‘n hokkiewedstryd ineengestort het, vermoedelik met ‘n hartaandoening.
Vinette, die derde oudste kind van mnr. en mev. Justin en Sandra van Heerden, is ‘n Graad 6-leerling by Laerskool Louis Trichardt. Sy was verlede week Dinsdag besig met ‘n wedstryd teen ‘n skoolspan van Tzaneen, toe sy skielik bewusteloos inmekaargesak het.
Alle aanvanklike noodpogings om haar by te bring was tevergeefs en sy is inderhaas na die hospitaal gebring. Sy is in die Medi-Kliniek op Tzaneen gestabiliseer en afgevoer na die Unitas-hospitaal in Pretoria, waar sy tot verlede Vrydag in die intensiewe sorgeenheid behandel is, terwyl medici die oorsaak van haar ongesteldheid probeer vasstel het. Volgens die aanvanklike aanduidings sou sy waarskynlik ‘n inplantingsoperasie moes ondergaan om die toestand van haar hart te normaliseer.
Sy kon Vrydag met die nodige medikasie voorlopig saam met haar ouers terugkeer na Louis Trichardt, maar moes vandeesweek Dinsdag weer by ‘n harthospitaal in Pretoria aanmeld vir verdere toetse.
By die harthospitaal is Dinsdag besluit dat nog toetse uitgevoer moet word om met sekerheid vas te stel presies watter verdere optrede noodsaaklik is.
Sy sou weer Donderdag moes terugkeer vir verdere monitering.
Sy is intussen saam met haar ouers by haar ouma in Pretoria, waar sy rustig moes wag vir die verdere toetse.
Vinette het ‘n ouer tweelingsussie en -boetie van 16 en nog ‘n jonger sussie van sewe jaar oud.
Mnr. Van Heerden is verbonde aan Korrektiewe Dienste op Louis Trichardt.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
