ADVERTISEMENT:

 

Odette Stander en haar dogter, Ilandre, wat in die hoofstraat aangeval en aangerand is.

Ma en dogter aangeval, terwyl omstanders toekyk

 

News  Date: 06 July 2007

 

Misdaad het nie altyd ‘n spesifieke tyd of plek nie en dit is presies wat Odette Stander en haar 13-jarige dogter verlede Woensdag uitgevind het.

Odette en dogter, Ilandre, is die aand na die KFC op die hoek van Songozwi- en Burgerstraat om kos te bestel.

Na hulle hul bestelling gegee het, is hulle gevra om so 10 minute te wag vir die hoender om gaar te kom. Odette en Ilandre het toe maar bietjie buite begin rondstap.

Skielik het twee mans hulle oorval. Odette sê dat haar aandag deur een afgetrek is, terwyl die ander man vir Ilandre gegryp het en haar serp in haar mond forseer het sodat sy nie kan skreeu nie.

Die man het probeer om Ilandre se selfoon te gryp en Odette, wat in daardie stadium ernstig vir haar kind se lewe gevrees het, het die man weggestamp. Dit het ‘n woede in die man ontketen waarna hy Odette herhaaldelik begin aanrand het in ‘n poging om haar uit te slaan.

Odette vertel dat sy gesien het die ander man is nie so aggressief nie. Sy het ‘n kans gevat en haar dogter se selfoon by haar gegryp. Daarna het die verdagtes vir Ilandre uitgelos en op Odette gekonsentreer. Hulle het haar gevloek en op haar geskreeu dat sy die selfoon moet oorhandig. Intussen is Odette aangehou slaan.

In ‘n stadium het Odette begin om terug te baklei. Die worsteling het hulle geneem tot voor die bakkery sowat ‘n straatblok vanaf die KFC. Odette vertel dat sy van die werknemers by die bakkery sien staan het en om hulp geskreeu het, maar dat hulle haar net bly aanstaar het sonder om enige iets te doen. Toe sy sien dat Ilandre nie meer vasgehou word nie, het sy vir haar dogter geskreeu om hulp te gaan soek. Kort daarna het die mans op die vluggeslaan.

Terug by die KFC het die bestuurder aangebied om ‘n ambulans te ontbied. Odette het egter eerder verkies om mense te skakel wie sy ken.

Minute later was vriende Jimmy en Suzette Moodie op die toneel. Hulle het vir Odette na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem waar sy sewe steke bokant haar een oog moes kry.

Odette sê dit is skrikwekkend om te dink dat jy sommer so in die openbaar voor mense aangeval kan word. Sy sê dat dit nog nie eens so laat was nie en dat daar nog baie mense in die strate rondgeloop het. Wat haar egter die meeste ontstel het, was dat niemand haar kom help het nie.

Te midde van die seer en skok, is Odette egter baie dankbaar dat Ilandre die voorval oorleef het.

Wat haar aanvallers betref, het Odette gesê dat sy die een sal erken wat haar geslaan het. Sy sê sy dink dat hulle nog op skool kan wees, aangesien hulle baie jonk lyk.

Kapt. Maano Sadike, plaaslike polisiewoordvoerder, het na aanleiding van die voorval inwoners versoek om meer oplettend te wees en versigtig te wees oor waar hulle rondbeweeg. Sou iemand hulle in ‘n soortgelyke situasie bevind of sien, vra hy dat die polisie dadelik geskakel kan word by tolvryenommer 086 001 0111.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines