ADVERTISEMENT:

 

Dood van babadogtertjie laat harte leeg

 

News  Date: 06 July 2007

 

Daar is ‘n leë plekkie in die hart van elkeen by Shiloh Place met die afsterwe van ‘n kosbare babadogtertjie.

"Sy is in my arms dood. Die laaste uur van haar lewetjie was dit net ek en sy. Ek het vir haar gesing en van die Vader vertel. Ek weet sy is nou by Hom," sê huismoeder Theresa de Beer, terwyl trane vloei. "Sy was so spesiaal. Dit is verskriklik, ek mis haar baie …"

Die babatjie wat Saterdag gesterf het, was Shilo Place se eerste babadogterjie en ook hul eerste baie siek babatjie.

Shiloh Place in Munnikstraat is ‘n deurgangshuis vir babas-in-nood en val onder die AGS Welsynsraad se uMephiprojek. Die gemeenskap en sakelui het reeds hulle harte wyd oopgemaak vir hierdie projek.

Projekbestuurder Linda Dunhin sê dat die babatjie sekerlik in haar lewe nie veel vreugde gehad het nie.

"Ek weet dat sy die afgelope rukkie hier by Shiloh Place as ’t ware in ‘n babahemel beland het. Sy was goed versorg en het baie liefde ontvang. Sy was ‘n plesierige babatjie wanneer sy lekker gevoel het en baie geduldig. As sy Theresa gesien het, het sy die armpies uitgestrek om opgetel te word en gelag," sê Linda. Theresa koester steeds ‘n groot foto van haar waar sy te pragtig glimglag.Volgens wet mag so ‘n kindjie nie deur publikasie geïdentifiseer word nie.

Die maatskaplike werker van Shiloh Place, Trinette Claasens, sê dat hulle al baie geleer het in terme van hoe om ernstige siektes soos tuberkulose en HIV/Vigs te hanteer en dat al die babas en personeel vir tuberkulose getoets sal word.

"Dit was ook sekerlik nie ons laaste siek baba nie. Verseker is die baba se afsterwe ‘n hartseersaak, al het ‘n mens dit verwag. Dit bly steeds ‘n tragedie en ‘n skok," sê Trinette.

In ‘n geval waar ‘n moeder sterwend is aan HIV/Vigs en weet haar kind gaan ook sterf, het sy waarskynlik geen hoop meer vir die kind nie.

"Ons hier het hoop gehad, ook op ons vermoëns om ‘n baba goed te versorg. In daardie sin is die afsterwe vir ons dalk nog moeiliker om te verwerk," sê die projekbestuurder.

Na die afsterwe van die dogtertjie, is daar tans vier babatjies in Shiloh Place. Omdat dit ‘n deurgangshuis is, word babatjies gereeld uitgeplaas en ‘n paar kom reeds in aanmerking vir uitplasing.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines