

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 July 2007
‘n Hele rivier van riool spoel weereens oor die pad by die pompstasie in die industriële gebied in Louis Trichardt.
Diegene verbonde aan die Suid-Afrikaanse Brouerye en ander nabygeleë nywerhede moes maar deur die rivier om na en van hul werkplekke te kom.
"Hierdie rivier het weer verlede week Woensdag begin loop," het mnr. Nieuwies van Nieuwenhuizen van die SAB Maandag gesê.
DA Raadslid Brian du Plooy het gesê dat die DA ‘n mosie aan die Raad gaan voorlê waarin ‘n impakstudie aangevra word om die effek van die syfering van rou riool op die ondergrondse water te bepaal, ‘n faktor wat ‘n groot gesondheidsrisiko inhou. Du Plooy het Maandagoggend gesê die DA gaan vereis dat daar binne 48 uur opgetree word en implemente in werking gestel word om by die pompstasie te gaan pomp.
Du Plooy het beklemtoon dat hierdie probleem al ten minste twee jaar voorkom.
"Ons weet dat die motors en die pompstasie nie die kapasiteit kan hanteer nie. Die pomp het gebreek en daar is nie geld beskikbaar nie. Daar is nie reserwefondse beskikbaar vir sulke gevalle nie. Dit is net normale finansiële beplanning om voorsiening te maak en aan die lang termyn te dink," sê Du Plooy.
Mnr. Herman Smith van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) is ook Maandagoggend deur ‘n belastingbetaler in kennis gestel van die rioolrivier en was dadelik op die toneel.
"Hierdie rivier wat by die pompstasie naby die brouerye begin loop vorm ‘n rioolvlei by die treinspoor in die omtrek. Uiteindelik laat dit die hele rioolrivier sterker loop, wat dan eindig naby die dam by Tenk E waar daar boorgate is wat water na die dorp se reservoirs pomp," het Smith gesê. Die SBBV wil ‘n tydskedule by die munisipaliteit hê insake die opgradering van die rioolstelsel.
Dit het gelyk of die Direkteur Tegniese Dienste die laaste was om te hoor dat hierdie berugte rioolrivier al weer die volle breedte van die pad oorspoel. "Dit is die eerste berig wat ek daarvan kry," het mnr. Masindi Mapholi Dinsdagoggend gesê en gevra dat inwoners in sulke gevalle dadelik aan sy kantoor rapporteer.
Mapholi en ‘n span loodgieters het die toneel dieselfde dag besoek. Na sy aankoms het hy die Zoutpansberger onverwyld geskakel om verskoning vir die ongerief aan te bied aan die SAB asook ander maatskappye in die omtrek. Mapholi het gesê dat die pomp onklaar was.
"Ons werp alles in die stryd om hierdie rioolstelsel eens en vir altyd reg te kry, veral met die oog op nuwe ontwikkelinge. Ons het ‘n versoek aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit gerig om die toewysing van hierdie projek te vervroeg. Ek is 99% seker daarvan dat hulle meer geld vir die projek sal voorsien. Ek verseker die gemeenskap van ons toewyding om met alles in ons vermoë te veg totdat ons hierdie uitdaging oorwin het," het Mapholi gesê.
Mapholi kan geskakel word by tel. 015 516 3212 en boodskappe wat by die kantoor gelaat word, word aan hom oorgedra.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
