ADVERTISEMENT:

 

Korrekte optrede het moontlike plaasaanval verhoed

 

News  Date: 13 July 2007

 

Knap gedaan! Dit is hoe die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, die optrede van die Southdown Plaaswag naby Louis Trichardt beskryf het wat heel moontlik Maandag (9de) ‘n plaasaanval verhoed het.

Mev. Santie du Plessis het vertel dat ‘n huurder op die plaas waar hulle bly vroeg Maandagoggend vreemdelinge by die plaasingang gewaar het toe sy op pad werk toe was. Sy het hulle gevra waarheen hulle op pad was en hulle het gesê dat mnr. Du Plessis vir hulle werk aangebied het.

Die huurder het dadelik mev. Du Plessis geskakel en die inligting deurgegee. Mev. Du Plessis wat ‘n paar minute later ook deur die hek beweeg het, het nie die vreemdelinge by die hek, op pad of by die huis gewaar nie. Sy het vertel dat sy onrustig, maar op haar hoede was.

Die bediende het later twee vreemdelinge by die beeskraal opgemerk en in die huis gehardloop. Alle deure is gesluit en die Southdown Plaaswag, onder beheer van mnr. Andro Fourie, is geskakel. Joubert het gesê dat die optrede van elke persoon in die ‘ketting’ korrek was.

"Dit getuig van oplettendheid, doelgerigte optrede en ingeligte besluite," sê Joubert.

Mev. Du Plessis sê dat Fourie binne minute eerste op die toneel was. Die vreemdelinge het weggehardloop en Fourie sê dit wil voorkom asof meer voornemende aanvallers in die bosse naby die huis geskuil het. Hy het mev. Du Plessis se koelkop optrede geloof en gesê dat die noue samewerking van die gemeenskap waarskynlik ‘n tragedie verhoed het.

Mev. Du Plessis het hoë lof gehad vir lede van die Louis Trichardt polisie. Sy sê sy weet nie hoe hulle van die vermeende aanval gehoor het nie, maar hulle was binne minute met twee voertuie op die toneel. Sy sê die optrede bewys net weer dat daar wel nog goeie, betroubare en bekwame polisielede oor is.

Joubert het gesê dat die goeie nuus gebeure so maklik ‘n tragedie kon gewees het. Hy het gesê belangrike lesse kan uit die gebeure geleer word. Eerstens dat lede van die gemeenskap ingelig moet wees en deel vorm van ‘n veiligheidsgroepering. Tweedens die feit dat die veiligheidsgroepering uitstekend funksioneer. Derdens was daar goeie samewerking met die polisie en laastens het elke lid in die skakel korrek opgetree. Joubert het weereens gesê dat persoonlike veiligheid nooit gedelegeer kan word nie.

"Dit is met groot dankbaarheid dat die gebeure ‘n goeie nuus storie is en dat ‘n moontlike tragedie verhoed is," sê Joubert.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines