ADVERTISEMENT:

 

TLU krities oor houding van SAPD

 

News  Date: 13 July 2007

 

Die onaanvaarbare antagonisme vanaf SAPD bestuur op provinsiale vlak in Limpopo, die rassistiese teistering van die kant van SAPD-lede in die noorde van Limpopo en die kortsigtige beperkings op wapenbesit vir selfverdediging, te midde van hemelhoë misdaadvlakke in Suid-Afrika, was die afgelope week op hoë vlak skerp onder die soeklig tydens ‘n SAPD werksessie met betrekking tot plattelandse veiligheid.

Die TLU SA het hoë gaste by die werksessie in Pretoria laat regop sit met ‘n besprekingstuk waarin in diepte gekyk is na die huidige situasie op die platteland en waarin ook gewaarsku word oor verreikende internasionale gevolge van dié situasie.

In die werkstuk word prontuit gesê dat, ten spyte van verskeie gesprekke en beloftes, is daar min of geen vordering rakende SAPD effektiwiteit op die platteland en veral in Limpopo en in die Vrystaat nie.

Plaasaanvalle en gepaardgaande misdaad bly onaanvaarbaar hoog.

Onwettiges buite beheer

Die beweging van onwettige vreemdelinge is buite beheer in veral die Limpopo Provinsie en in gebiede naby aan Zimbabwe en Mosambiek.

"Daar is geen aanduiding dat die SAPD enigsins suksesvol is om die inwoners – blank en swart - teen onwettiges te beskerm nie. Onwettige Zimbabwiërs raak toenemend by halsmisdade betrokke, soos die afgelope plaasaanvalle getuig. Hoe kan inwoners dan ook resultate verwag, as selfs President Mbeki opmerk dat ons maar met instroming van onwettiges moet vrede maak," lui die besprekingstuk, wat opgestel is deur die veiligheidsvoorsitter van die TLU SA nasionaal, mnr. Gideon Meiring.

Dit lui voorts: "Op aanmoediging van senior elemente in die SAPD het ons as plattelandse gemeenskap moue opgerol en self betrokke geraak in die stryd teen misdaad. In die Limpopo Provinsie, en spesifiek in die groter Soutpansberg gebied, was die resultate besonder positief. Ons steunkringe het bygedra tot groot sukses by veral voorkomende optrede sowel as optrede ten tye van of ná afloop van insidente. In Louis Trichardt, wat by geleentheid op die voorblad van ‘n nasionale dagblad beskryf is as die ‘Bagdad’ van Suid-Afrika, het misdaad soveel as 95% gedaal. Dit moet in gedagte gehou word dat ons lede en ander op eie koste en in eie tyd dié byna bomenslike vermag het.

"In plaas van dankbaarheid ervaar ons egter toenemend ‘n antagonistiese houding vanaf die SAPD geledere en veral vanaf Polokwane. Ons lede word gedreig met boetes sou hulle van groenligte of witligte gebruik maak wanneer en waar nodig. Hierdie kleinlike en eng benadering speel absoluut in die hande van die misdadiger en is totaal kontra-produktief. Moontlik het die arrestasie van ‘n SAPD-lid deur ons mense iets daarmee te make," voer Meiring aan.

Kortsigtige beperking

"Beperkings op wapenbesit met die klem op selfverdediging maak dit maklik vir die krimineel om toe te slaan op toenemend hulpelose individue. Dit bly ondenkbaar, met hemelhoë misdaadvlakke, dat ‘n regering die kortsigtigheid het om wapenbesit te beperk. Dit is terloops ook nog ‘n blatante aantasting van die eiendomsreg wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet gewaarborg word.

"Die onregmatige arrestasie van ons lede, ten spyte van persoonlike skrywes vanaf Nasionale Kommissaris Selebi, dra voorts geensins daartoe by om ‘n vertrouensverhouding met die SAPD op te bou nie.

"Wat huis en haard beveiligingsopleiding betref, gaan dit goed en is TLU SA die voorloper om op eie koste sy lede en ander in staat te stel om na hulleself om te sien. Ondersoek word tans gedoen om in gebiede waar dit toepaslik is, bewegingsbeheer toe te pas.

"TLU SA wil dit herbeklemtoon dat ons, soos in die verlede, maar te bereid is om saam met die SAPD te werk. Eie lede sal egter onder eie bevel en beheer optree in ‘n benadering wat tot dusver baie suksesvol en navolgenswaardig is," lui die besprekingsdokument van die TLU SA.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines