ADVERTISEMENT:

 

Talle sakepersone is boos oor die feit dat straatsmouse ongehinderd besigheid kan doen, terwyl hulle duisende rande moet spandeer om aan al die munisipaliteit se regulasies te voldoen.

Sakelui boos oor regulering van kosstalletjies

 

News  Date: 13 July 2007

 

Mnr. Riaan Volschenk van BJ Food Centre in Burgerstraat (langs die taxistaanplek) sê hy en ander sakeondernemings sit met ‘n kopseer ten opsigte van straat kosstalletjies.

Volschenk sê hy het reeds al verskeie kere inspeksies ontvang van die brandweer en die munisipaliteit se gesondheidafdeling om te sien of sy besighede aan al die wetlike vereistes ten opsigte van die verkoop van kossoorte voldoen. Hy sê hy het reeds meer as R10 000 spandeer om aan al die regulasies te voldoen. Sy vraag is nou wie die man se besigheid moet inspekteer wat elke dag ´n kosstalletjies langs sy winkel in die straat opslaan?

Volschenk sê hy het al verskeie kere met gesondheidsinspekteurs van die munisipaliteit gepraat en hulle gevra om ondersoek te kom instel. Tot op hede, sê hy, is daar nog niks gedoen nie. Hy sê hy gun almal die reg om ‘n besigheid te bedryf, maar dan moet almal oor dieselfde kam geskeer word. Volschenk sê dit is onregverdig dat hy duisende rand moet spandeer om sy onderneming wettig te kry, terwyl die man in die straat kan maak wat hy wil.

Volgens mnr. Peter Magwala, die munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, is die regulering van kos- en ander stalletjies in die dorp se strate tans ‘n probleem. Hy sê die smouse huur in baie gevalle direk ‘n staanplek van die eienaar van die perseel en stel nooit die Raad in kennis van hul sakebedrywighede nie. Tog, sê Magwala, is die munisipaliteit wel instaat om stalletjies te besoek en gereeld inspeksies te hou. Op ‘n stelling dat sakepersone sê dat die Raad se gesondheidsinspekteur nie die stalletjies besoek nie, selfs al word hulle geskakel, het Magwala gesê dat hy nie in hierdie stadium wil reageer daarop nie. Hy sê hy sal die saak indringend met die betrokke persone en grondeienaars bespreek.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines