ADVERTISEMENT:

 

Wetstoepassing steeds gebrekkig by sandstuitbaan

 

News  Date: 13 July 2007

 

Die verpligte stop vir swaarvoertuie by die sandstuitbaan op die N1 net noord van Louis Trichardt, is ‘n groot kopseer, veral omdat daar oënskynlik geen doeltreffende manier is om wetstoepassing daar af te dwing nie.

Volgens die padtekens is alle voertuie swaarder as sewe ton verplig om van die nuwe rybaan langs die sandstuitbaan gebruik te maak en eers daar stil te hou, voordat hulle aanbeweeg na Louis Trichardt toe, maar verskeie inwoners het al gekla dat die swaar voertuie hulle nie aan die verpligte stop steur nie. Die verpligte stilhou van swaar voertuie is belangrik om inwoners van die dorp te beveilig teen moontlike weghol vragwaens.

Een inwoner, Nicolene Visser, sê dat die verpligte stop tans eenvoudig ignoreer word.

Nicolene sê sy is daagliks, vyf dae ‘n week, op die pad, aangesien haar werk buite die dorp op die Musina pad geleë is. Sy het nog nooit ‘n swaar voertuig gesien wat die padtekens by die verpligte stop eerbiedig nie. Volgens Nicolene is dit net vreemd dat daar geen wetstoepassing plaasvind nie.

Die Zoutpansberger het Dinsdag met mnr. Peter Magwala, die munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, gesels vir kommentaar oor die aangeleentheid.

Mnr. Magwala het gesê hy is bewus van die probleem en die munisipaliteit is besig om dit te probeer oplos. Volgens hom is dit belangrik om te besef dat die betrokke stop deur beide die plaaslike verkeer sowel as provinsiale verkeersbeamptes gereguleer moet word.

Mnr. Magwala het gesê die munisipalitiet en die Departement van Paaie en Vervoer maak deel uit van dieselfde regering en hulle moet die probleem saam aanpak.

Die praktiese implikasie is dat die munisipalitiet sowel as die provinsiale departement hul hulpbronne moet saamvoeg om wetstoepassing regoor die hele Makahdo munisipale area af te dwing en sodoende veiligheid te verseker. Mnr. Magwala het gesê die munisipaliteit en die departement sou vandeesweek byeen kom om ‘n moontlike samewerkingsooreenkoms te bespreek.

Dit sal ook kan help om die munisipalitiet se huidige probleem met ‘n tekort aan verkeersbeamptes uit te skakel.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines