

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 July 2007
‘n Behoefte aan omvattende herbesinning oor die amptelike status van Zimbabwiërs wat ter wille van oorlewing die grens na Suid-Afrika onwettig oorsteek, is vandeesweek uit verskillende oorde in die Limpopo Provinsie geopper.
Formele vlugteling-status vir Zimbabwiërs, die oprigting van vlugteling ontvangsentrums langs die Zimbabwiese grens en ‘n verslapping van die indiensnemingsvoorwaardes vir Zimbabwiërs op grensplase is van die noodvoorstelle wat nou geopper word. Die herinstelling van doeltreffende grensbeheer deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, met opdrag om alle nodige bystand aan ontwrigte Zimbabwiërs te verleen, maak deel uit van dié voorstelle wat daarop gerig is om die onnodige kriminalisering van vlugtende Zimbabwiërs uit te skakel.
Planne reeds in plek
Die munisipale bestuurder van Musina, mnr. Abram Luruli, het by navraag bevestig dat ‘n plaaslike munisipale rampbestuursplan in plek is. Grond en geriewe is ook reeds beskikbaar, indien die nasionale owerheid sou besluit om ‘n vlugtelingkamp by die dorp te vestig.
In Christen-geledere in die Noorde van die Limpopo Provinsie word aandag gegee aan die dilemma wat optrede bemoeilik om die menslike nood te hanteer wat uit die dreigende nasionale tragedie in Zimbabwe voortspruit. Dit is volgens bestaande wetgewing ‘n kriminele oortreding om hulp van enige aard aan "onwettige immigrante" te verleen. Om water, kos, warm klere, onderdak of vervoer te verskaf, is onderhewig aan arrestasie en strawwe boetes.
Op Louis Trichardt word gewerk aan ‘n konsep versoekskrif aan die Suid-Afrikaanse owerheid en die Verenigde Nasies se vlugtelinge-kommissaris om dringend amptelike beweegruimte toe te laat waarin Christen landsburgers getrou aan hul geloofsopdrag en gewete wettig kan optree om die nood te help verlig van medemense en geloofsgenote wat deur die situasie in Zimbabwe geteister word. (Luidens ‘n mediaverklaring wat die afgelope week deur die SAPD op die dorp uitgereik is, word inwoners daaraan herinner dat dit onwettig en ‘n strafbare oortreding is om op enige wyse enige hulp of bystand aan "onwettige immigrante" te verleen.)
Die konsep versoekskrif sê die voortgesette gebrek aan sinvolle optrede ten opsigte van die nood van die Zimbabwiese bevolking is ‘n moreel-onaanvaarbare en onregmatige menseregte vergryp wat ook ernstige nadelige ekonomiese en maatskaplike gevolge vir Suid-Afrika inhou.
Plaaslike en buitelandse waarnemers het onlangs formeel gewaarsku dat die onbeheerde vloedgolf van Zimbabwiërs wat onwettig oor die Limpopo na Suid-Afrika oorspoel, ‘n vernietigende uitwerking kan hê op volhoubare landbou in die noorde van die provinsie en ook toeriste uit die buiteland en voornemende besoekers aan die sokker Wêreldbeker kan afskrik. ‘n Grootskaalse veiligheidsrisiko vir plaaslike inwoners en buitelandse besoekers word geskep deur desperate massas honger en werklose Zimbabwiërs wat grotendeels oor private plase beweeg, uit vrees dat hulle in hegtenis geneem en teruggestuur gaan word ná die onhoudbare omstandighede in Zimbabwe. In hul deurtog word skade aan belangrike wildwerende heinings en ander infrastruktuur aangerig en kom diefstal en ander misdaad ook voor.
Gevolge duidelik sigbaar
Die uiteenlopende gevolge van hierdie krisis is daagliks sigbaar in die noordelike streek tussen Musina en Louis Trichardt.
Musina beleef, volgens sakeman mnr. Jack Klaff, ‘n ongekende bloeitydperk, met Zimbabwiërs wat oor die grens moet kom vir hul inkopies, terwyl winkelvoorraad in hul eie land besig is om op te droog. Die grootste opbloei in die dorp is egter te bespeur in die pryse van eiendom. Die voorsitter van die Musina Sakekamer, mnr. Jayson Rana, sê die "inkopie stormloop" is ‘n tydelike verskynsel, beperk tot private aankope van net sekere verbruikersgoedere. Werklike massa aankope deur Zimbabwiese handelaars het inderdaad drasties afgeneem, weens die feit dat hulle verplig word om goedere teen halfprys in Zimbabwe te verkoop. Eiendomspryse op die dorp het egter die hoogte ingeskiet, winkelruimte is haas onbekombaar en verskeie groot bouprojekte is op die dorp aan die gang.
Spoedige oplossing vir probleme nodig
Die munisipale bestuurder, mnr. Luruli, sê die munisipaliteit wil graag sien dat die probleme in Zimbabwe so spoedig moontlik opgelos word en sê sy volle steun in hierdie verband toe aan die sentrale regering en ander tersaaklike organisasies se pogings om ‘n politieke oplossing te bevorder. Oor die voedselkrisis in Zimbabwe sê hy: "Ons dorp verlustig ons geensins in die krisis nie, maar dit is so dat van ons sakeondernemings tans die geleentheid het om bykomende inkomste te genereer uit die verhoogde vraag na veral voedsel en brandstof." Hy sê onwettige bewegings oor die grens is ‘n saak vir die polisie en die nasionale weermag.
"Indien die owerhede sou besluit om ‘n vlugtelingkamp by Musina te vestig, beskik ons oor die nodige grond en dienste om, in samewerking met die sentrale regering, so ‘n kamp te kan inrig."
Duisende weekliks gedeporteer
Op die N1 tussen Musina en Louis Trichardt is oorlaaide sleepwaentjies, gestrande voertuie en mense wat net met die klere aan hul lyf en ‘n waterbottel in die hand te voet na die Suid-Afrikaanse binneland op pad is, ‘n algemene verskynsel. Op plase noord van die Soutpansberg keer boere bykans daagliks groepe vlugtelinge aan, wat aan die polisie oorhandig word.
‘n Verteenwoordiger van die Louis Trichardt kantoor van die Departement van Binnelandse Sake sê tussen 300 en 400 "onwettige immigrante" word weekliks bloot deur die polisie in en om Louis Trichardt aangekeer en deur die Departement per pad afgevoer na Beitbrug vir deportasie, terug na Zimbabwe. Statistiek oor die totale aantal deportasies was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
‘n Spesiale trein kom weekliks deur die dorp met tot 2 000 "onwettige immigrante" afkomstig van duur aanhoudingsentrums in Gauteng.
Immigrante ‘n teiken
Dié "onwettige immigrante" sluit mans, vrouens en kinders van skoolgaande ouderdom in. Op die Louis Trichardt spoorwegstasie is by geleentheid ná ‘n yskoue winternag ‘n pasgebore baba aangetref, wat vermoedelik deur ‘n desperate moeder daar gelaat is. Zimbabwiese weeskinders van skoolgaande ouderdom wat te voet die grens oorsteek en die nagenoeg 100km vanaf die grens tot by Louis Trichardt aflê, se hoop op beter geleenthede word ru ontnugter, wanneer hulle selfs in die "plek van veiligheid" in Polokwane ontdek dat daar nie voorsiening gemaak word vir hul voortgesette onderrig nie. Hulle kry bloot basiese sorg totdat hulle teruggestuur of in alternatiewe pleegsorg uitgeplaas kan word. Jeugdiges wat die grens oorsteek in die hoop om geld te verdien waarmee die res van hul gesinslede versorg kan word, word dikwels die prooi van smokkelsindikate, omdat hulle nie wettig in Suid-Arika in diens geneem kan word nie. Ander word die prooi van korrupte Suid-Afrikaanse amptenare wat hulle teen buitensporige bedrae "help," soms ook met vervalste dokumentasie.
‘n Woordvoerder van die TLU SA, mnr. Gideon Meiring, sê doeltreffende grensbeheer kan onnodige ontwrigting vir beide die Zimbabwiërs en die landboubevolking in die noorde van Suid-Afrika voorkom en op die lang duur miljoene rand aan onnodige uitgawes vir die belastingbetalers spaar.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
