ADVERTISEMENT:

 

NG-predikant oorleef buffelaanval

 

News  Date: 20 July 2007

 

Ds. Anton Kemp, NG-predikant op Musina, kan homself baie gelukkig ag om nog te lewe nadat hy op Woensdag, 11 Julie, deur ‘n buffel bestorm is. Die buffel het hom met sy horings gegaffel en die lug in geslinger.

Kemp het ‘n jaggeselskap vergesel wat gaan soek het na ‘n buffel wat vroeër die oggend deur ‘n Amerikaner gekwes is. Die geselskap het bestaan uit Kemp, twee professionele jagters en vier spoorsnyers. Vir etlike kilometers is die spoor gevolg. Daar is gestop vir middagete, waarna die soektog voortgesit is.

In ‘n stadium het die geselskap se spoorsnyhond geblaf. Toe die groep weer sien, was die stormende buffel reeds by hulle. Alles het so vinnig gebeur dat daar nie eers tyd was om ‘n geweer op te lig nie.

Die buffel het Kemp met die horings gehaak en hom die lug in geslinger. Kemp het in die bosse te lande gekom, waarna die buffel gedraai het en weer op Kemp afgestorm het. Gelukkig vir hom kon een van die jagters die buffel ‘n nekskoot toedien. Die swaargewonde dier het voor Kemp se voete in die grond geploeg, maar was nog nie dood nie. Die hele geselskap het toe op die dier losgebrand met die finale doodskote.

Kemp is dadelik deurgejaag hospitaal toe. Hy is Saterdag oorgeplaas na die Unitas Hospitaal in Pretoria, nadat sy toestand effens versleg het. Gelukkig het die buffel se horings hom nie deurboor nie, alhoewel sy kolon geskeur het. Familie het sy toestand as "buite gevaar" bestempel en gesê dat hy later ‘n operasie sou moes ondergaan om sy kolon en buikbreuk te herstel. Na die operasie sal hy vir ‘n paar dae in die hoësorg eenheid moet vertoef. Op die vroegste meen medici dat Kemp eers eerskomende Sondag ontslaan sal kan word.

Kemp se vrou, Hester, sê dat, ten spyte van die breuke en beserings, dit net genade is dat haar man nog lewe. Die hele voorval was ‘n groot skok vir haar en haar gesin. Sy sê dit kon baie maklik erger gewees het. Hester het haar dank uitgespreek teenoor al die gemeentelede, hospitaalpersoneel familie en vriende vir hul ondersteuning. Sy sê dat alhoewel hul twee seuns, Waldo (20) en FC (12) bekommerd is oor hul pa, hulle die situasie goed hanteer.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines