ADVERTISEMENT:

 

Polisie belowe hulle ondersoek stasiebevelvoerder

 

News  Date: 20 July 2007

 

Die amptelike ondersoek na ‘n insident by die polisiestasie op Levubu, waar die stasiekommissaris na bewering onbehoorlik ingemeng het in ‘n ondersoek en ‘n klaer in ‘n gewapende roofklag daarvan beskuldig het dat hy onder valse voorwendsels die rooftog versin het, het nog geen uitslag opgelewer nie.

Dit is nie duidelik of die polisie hoegenaamd voortgaan om die beweerde rowers te probeer opspoor en of die klag intussen verander of laat vaar is nie.

‘n Gewapende rooftog sou na bewering in die vroeë oggendure van 21 Junie voorgekom het op die plaas Brazilia van mnr. J. Furstenburg, waarin vier gewapende mans die eienaar en ‘n werker sou vasgebind en in ‘n kluis toegesluit het en daarna met die boer se voertuig en ‘n groot bedrag geld weggekom het.

Na bewering is daar tevergeefs probeer om die polisie op Levubu te aktiveer. ‘n Werker moes glo self die polisie fisies gaan haal.

Mnr. Furstenburg, wat saam met ‘n vennoot piesang rypmaakkamers op die plaas bedryf, is glo ná die voorval na die polisiestasie ontbied, waar die stasiekommissaris – nie die ondersoekbeampte nie - hom na bewering op ‘n intimiderende wyse ondervra en allerlei beskuldigings toegevoeg het.

Nóg die polisie se kommunikasiebeampte op Levubu, nóg die streekkantoor op Thohoyandou het enige inligting oor dié ernstige beweerde misdaadvoorval aan die media beskikbaar gestel. Die kantoor op Thohoyandou het ‘n navraag na die provinsiale kantoor in Polokwane verwys.

Senior Superintendent Ronel Otto van dié kantoor het op 27 Junie gesê die aangeleentheid word onder die aandag van die Provinsiale Kommissaris gebring en "alle omstandighede rondom die hele aangeleentheid sal ondersoek word."

Vandeesweek het sy by navraag gesê daar is nog geen nuus oor die aangeleentheid nie.

Dit is gevolglik nie duidelik wie se weergawe van die gebeure nou deur die polisie op Levubu ondersoek word en of dié ondersoek onderhewig is aan die uitslag van die ondersoek deur die provinsiale kommissaris nie.

Rassisties-gedrewe onbevoegdheid by die polisiekantoor op Levubu het in die verlede tot persoonlike ingryping deur die destydse LUR vir Veiligheid en Sekuriteit gelei. Dit was aanleiding tot die verplasing van senior personeel. Een van die kommissarisse wat by die indertydse fiasko betrokke was, het intussen uit diens getree.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines