

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 July 2007
‘n Inwoner van Louis Trichardt, mnr. Jackie Smit (76), het die afgelope week die kantore van die Zoutpansberger geskakel met nuus van ‘n interessante vonds.
Oom Jackie sê hy het besluit om die koerant te skakel, nadat hy ‘n Rewolita-plant oopgegrawe het en tot sy verbasing gesien het die dogterbol pronk met 38 "kleintjies" aan haar vas. Hy sê dat dit die eerste keer in 40 jaar is wat hy met plante werk, dat hy só ‘n snaakse verskynsel sien.
Oom Jackie woon op Levubu waar hy die Rewolita-plante aangeplant het. Hy boer lankal nie meer nie en sê hy gebruik nou die landerye om sy stokperdjie en liefde vir plante uit te leef. Die dogterbol met 38 kleintjies bly egter vir hom ‘n raaisel, aangesien hy sê daar nie regtig ruimte was vir die klein plantjies om so te ontwikkel en te groei nie. Hy sê hy sou graag wou sien hoe die plantjies vanaf die dogterbol groei.
Oom Jackie is egter vinnig om te noem dat die plant nie ‘n natuurfrats is nie, maar bloot ‘n bewys van die natuur se vermoë om te oorleef. Sy passie vir dié plante het jare gelede begin weens hul onbekombaarheid. Dit het begin toe hy ‘n persoon in Tzaneen ontmoet het wat toevallig ontkiemde sade van die Rewolita-plant gehad het. Hy het dit dadelik aangeplant en dit het gegroei.
Oom Jackie sê dat hy nooit als van die plant sal kan leer nie, maar dat sulke vreemde verskynsels sy belangstelling in die plant lewendig hou. Hy sê hy hoop die verskynsel sal ander mense se belangstelling in die plant ook prikkel.

ADVERTISEMENT:
