

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 July 2007
Louis Trichardt is vanaf 26 tot 29 Julie die plek om te wees met die aanbied van die Soutpansberg se eerste eie Zoutpansbergse Expo en Kuns- en Kultuurfees.
Die geleentheid word aangebied op die sportterrein van Hoërskool Louis Trichardt, wat ook bekend is as Triegiepark.
Daar gaan van kunste, drama tot musiek en dans en baie puik uitstallings wees. Heerlike kontreistalletjies en allerhande interessanthede waarvoor "Laevelders" nog altyd "stad" toe moes ry, gaan ook beskikbaar wees. Behalwe groot name in die uitvoerende kunste, soos onder andere Frank Opperman, Juanita du Plessis, Eden, Son-Isha en Zak du Plessis (Maak-‘n-Las) wat gaan optree, gaan besoekers die geleentheid kry om ook plaaslike talent te sien. Die oogmerk van die Zoutpansberg Expo en Kuns- en Kultuurfees is om die omgewing se kreatiewe mense en kunstenaars vanaf Musina tot Gauteng op nasionale vlak erkenning te gee deur optredes en uitstallings tydens hierdie toonvenster. Die stimulasie wat hierdie blootstelling in terme van tegniek en ontwikkeling kan hê is natuurlik van onskatbare waarde vir die streek.
Gedurende die fees gaan daar nie net toneel- en musiekopvoerings wees nie, maar ook gesonde spele vir die tieners en jong volwassenes. Saterdag word raakrugby, boeresport, skyfskiet en kettieskiet gereël deur bekwame manne van die Transvaal Landbou-unie. Hannes Grobler in sy Nissan Dakar resieskar gaan waaghalsige mense neem vir ‘n rit in sy voertuig tot by die Hanglip piekniekterrein en weer terug vir slegs R100 per persoon. Daar gaan selfs ‘n opgekikkerde mallemeule wees vir oud en jonk, asook "Bungey Jump".
Buiten vir al die heerlike en gesellige vermaak, is daar ook die blomme-uitstalling wat weer gaan plaasvind. Elke jaar is die uitstalling die hoogtepunt vir al die dames. Temas word neergelê en alle rangskikkers moet volgens die tema die beste uitbeelding voorstel. Die afdeling vir skoolgaande leerlinge se rangskikkings is altyd ‘n wenner en die kinders word uitgenooi om deel te neem. Groot pryse is op die spel.
Vir meer inligting, skakel Greta Fourie by tel. 082 820 4648.

ADVERTISEMENT:
