

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 July 2007
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Louis Trichardt het Dinsdagaand hul dreigement om lede van die Plaaswag en Soutpansberg Dorpswag te beboet indien hulle gebruik maak van die veelbesproke groen- en witligte op hul voertuie, uitgevoer. Die voorval word uit talle oorde beskou as uiters kwaadwillig.
Lede van die Soutpansberg Dorps- en Plaaswag in die Soutpansberg-omgewing is geaktiveer om steun te verleen en te help met die opspoor van ‘n gesteelde voertuig. Die voertuig was die tweede voertuig wat in die bestek van ‘n paar uur die dag in Louis Trichardt gesteel is.
Onmiddellik het dorpswaglede begin met die monitor van die dorp se hoof in- en uitgangsroetes. Terselfdertyd het die plaaswagte begin met die monitor van die hoofroetes uit die dorp na onder meer Polokwane, Vivo, Musina en Thohoyandou.
Skaars 10 minute nadat lede van die Southdown Plaaswag langs die Thohoyandou-pad bymekaar gekom het, het vier polisievangwaens by hulle gestop en daar is begin met die uitskryf van boetekaartjies. Lede van die Soutpansberg Dorpswag wat ter ondersteuning opgedaag het met hul witligte is ook kaartjies gegee. Na wat verneem word is 13 lede van die plaaswag en vier lede van die dorpswag elk met R300 beboet ingevolge die Nasionale Padverkeerswet, Wet 93 van 1993.
Aanloop tot boeteskrywery
Sowat twee maande gelede is lede van die plaas- en dorpswag ingelig dat die polisie vanaf provinsiale vlak opdrag ontvang het om persone wat gebruik maak van die groen- en witligte te beboet ingevolge die Nasionale Padverkeerswet. Onmiddellik is ‘n prokureursbrief, in opdrag van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, aan die plaaslike stasiebevelvoerder, supt. Naledzani Shivula, gerig waarin sy gemaan word dat daar geen wetlike beletsel bestaan teen die gebruik van die groen- en witligte nie. Die brief noem dat die dorps- en plaaswag dus sal voortgaan met hul veiligheidsaktiwiteite. Die brief meld verder dat die aangeleentheid van gekleurde ligte wat deur die dorps- en plaaswag gebruik word lankal reeds op nasionale vlak met die betrokke departement uitgeklaar is.
Intussen het die dorpswag besluit om eers af te skaal op die gebruik van hul witligte totdat duidelikheid oor die aangeleentheid verkry kon word. Die misdaadsituasie het egter weer die dorpswag genoop om van die ligte gebruik te maak.
"Ons het agtergekom dat misdaad in die dorp weer begin toeneem het, nadat ons gestaak het om die witligte te gebruik. Ons was nie meer sigbaar nie en die indruk het ook by inwoners ontstaan dat ons nie meer aktief is nie," sê mnr. Dirk Meissenheimer, ondervoorsitter van die Soutpansberg Dorpswag.
Vrydagaand se dreigemente
Meissenheimer sê dat, na aanleiding van die verslegtende misdaadsituasie, het die dorpswag uit nood besluit om op Vrydagaand, 20 Julie, weer ‘n massasigbaarheidsveldtog te loods om voornemende misdadigers af te skrik. Uit die aard van die saak is die witligte gebruik. Dit was egter nie lank nadat lede begin patrollie ry het nie, dat hulle deur polisie reserviste voorgekeer is en weereens gedreig is dat hulle onmiddellik moet staak met die gebruik van die ligte, anders gaan hulle beboet word. Om ‘n dreigende konfliksituasie te ontlont het die dorpswaglede vir eers afgestaan.
Brief aan Kommissaris Jackie Selebi
Vrydagaand se konfrontasie tussen die dorpswag en die polisiediens het aanleiding gegee tot ‘n amptelik skrywe vanaf mnr. Gideon Meiring, nasionale voorsitter: Veiligheid TLU SA, aan nasionale polisiekommissaris Jackie Selebi. In die skrywe noem Meiring dat die dorps- en plaaswagstrukture as gemeenskapsorganisasies met geesdrif meegedoen het aan Selebi, Minister Ngakula en selfs president Thabo Mbeki se oproepe dat burgers self moet betrokke raak in die stryd teen misdaad.
"Op grondvlak ervaar ons egter in plaas van waardering vanaf die SAPD se kant ‘n toenemende antagonisme teenoor ons gemeenskapstrukture," skryf Meiring. Hy noem verder dat gewone landsburgers bitter graag hul energie sou wou aanwend by hul primêre dagtaak – alles behalwe polisiëring.
"Verantwoordelikheid en plig dwing ons egter tot optrede om aanvanklik te help stabiliseer en uiteindelik te normaliseer. In die proses word van hulpmiddele en uitrusting gebruik gemaak (soos in die geval van die SAPD lede) om ons taak te vergemaklik en effektiwiteit in die hand te werk. In hierdie verband het ons met betrekking tot die ligte en ander hulpmiddele tot op die hoogste vlak gesprek gehad, met die nodige begrip en waardering," skryf Meiring. Hy sluit sy skrywe af deur weereens kommissaris Selebi te versoek om hom uit te spreek ten opsigte van gemeenskapsbetrokkenheid en duidelik riglyne en beperkinge daar te stel.
"Intussen gaan ons voort om ‘n gemeenskaplike omstandigheid (misdaad) aan te spreek en onder druk te plaas" sluit die skywe af. Uit Dinsdagaand se voorval is dit duidelik dat Meiring se pleidooi tot in daardie stadium op dowe ore geval het.
Reaksie
Meiring het na afloop van Dinsdagaand se voorval weereens beklemtoon dat daar geen regsbasis is waarvolgens dorps- en plaaswag lede beboet kan word omdat hulle van die groen- en witligte gebruik maak nie. Hy het die polisie se optrede as uiters kwaadwillig bestempel.
"Wat hier besig is om te gebeur is dat jy met hoëvlak mense sit wat magsbehep geraak het en toenemend poog om hul mag teen die land se burgers aan te wend, soortgelyk aan Zimbabwe," het Meiring gesê. Hy sê hy kan nie verstaan hoe die polisie binne minute vier/vyf polisie vangwaens kan uitstuur om verkeersboetes uit te skryf, maar hulle moet vir ure wag wanneer daar arrestasies van onwettige immigrante en kriminele op hul plase is nie. Hy het na ‘n voorval, ook Dinsdagaand, verwys, waar daar na twee en ‘n half uur nadat daar met die polisie geskakel is om verbode immigrante te kom arresteer, nog geen reaksie was nie.
Meissenheimer was eweneens ongelukkig.
"Hulle het tyd vir sulke gemors, maar geen tyd en waardering vir die goeie werk wat ons as dorpswag doen nie, ter ondersteuning van die polisie. Hulle onderdruk ons waar ons probeer help. Hulle is nie verkeersbeamptes nie. Plaas gebruik hulle hul tyd en energie om misdadigers te vang, eerder as om hulself op te hou met onbenullighede," sê Meissenheimer.
Mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsittersvereniging op Louis Trichardt, het ook sy verbasing uitgespreek oor die polisie se optrede.
Hy sê hy is verbaas dat die polisie nog geen beleidsdokument opgestel het oor die gebruik van die groen- en witligte nie en, ten spyte van die goeie werk wat deur die dorps- en plaaswag gedoen word, summier oor te gaan met die uitreiking van boetekaartjies en sodoende dorps- en plaaswaglede kriminaliseer.
"Die polisie sal moet besluit of hulle nog die samewerking van die gemeenskap wil hê. As dit wel in hul belang is, sal hul tog moeite doen om riglyne en ‘n beleid daar te stel. Die uitreiking van boetekaartjies help nie. Ons eis ingryping vanaf die hoogste vlak," het Naudé gesê.
In reaksie op die voorval en die vraag waarom die polisie besluit het om die kaartjies uit te skryf, was die supt. Ronel Otto van die polisiediens se provinsiale kantoor in Polokwane se antwoord: "Die nasionale padverkeerswet plaas ‘n verbod op die gebruik van enige ligte op voertuie wat nie deur die Nasionale Padverkeerswet, Wet 93 van 1996, gemagtig word nie," het sy gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
