

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 July 2007
Dit is nie net ‘n boer wat ‘n plan maak nie, boervroue maak ook planne. Die planne van die vroue in die Levubuvallei het hulle wenners in die Landbou Weekblad se "Boer maak ‘n plan" kompetisie gemaak.
Die Levubu Vallei Boerevereniging se Plaaswag Koördineerders was die wenners van die kompetisie. Die "wenplanne" het daartoe gelei dat misdaad in die Levubu vallei ‘n drastiese afname getoon het. Op ‘n kritieke oomblik toe van die mans begin gefrustreerd en moedeloos raak met die hele misdaadsituasie, het die vroue ingespring.
Die aanloop
Die aanloop van die eens-moedelose situasie op Levubu is nie onbekend nie.
"Levubu het ‘n gesonde en sterk groeiende boeregemeenskap gehad, totdat twee belangrike gebeurtenisse in 2000 dinge begin deurmekaarkrap het," het mnr. Stephan Hoffman, voorsitter van die TLU SA (Transvaalse Landbou-unie SA) se Levubu-boerevereniging aan die Landbou Weekblad gesê.
In April 2000 is grondeise op ‘n groot aantal plase in die Levubuvallei in die Staatskoerant aangekondig. Dit was dieselfde jaar waarin vloede amper die helfte van die avokadobome en ‘n tiende van die macadamiabome verwoes het. Met die grondeise daarby, het finansiële toestande in die vallei verander. Die sosiale struktuur van die gemeenskap het ook verander. Daar was die groepe wat hulle grond wou verkoop en die groepe wat nie wou verkoop nie. Bankrot-veilings het plaasgevind. Sommige boere het hul grond van die hand gesit en die Levubuvallei verlaat. Ander het besluit om nie die vallei te verlaat nie, al is hulle gronde verkoop.
Misdaad tref Levubu
In hierdie moeilike tyd van grondtransaksies wat nie werklikheid geword het nie, het Levubu die teiken van misdaad geword. Dit het gemaak dat die mense gevoel het Levubu is nie meer veilig nie en mense moes daarvandaan wegkom Nog ‘n gevolg was dat plekke wat vir die gemeenskap kosbaar is, soos die begraafplaas, begin verval het.
Die manne begin met ‘n plan
In November 2003 het die Levubu-boerevereniging besluit om ‘n plan teen die misdaad in hulle omgewing te beraam en in werking te stel. Al was Levubu sonder ‘n derde van hul inwoners, het die boerevereniging gesê tot hiertoe en nie verder nie. Hulle doel was "om die veiligheidsituasie in die Levubu-vallei in só ‘n mate om te keer en te stabiliseer dat die inwoners veilig sal voel om aan te bly en voort te gaan met hulle dagtake."
‘n Groot voordeel was dat die Levubu-boerevereniging se veiligheidskomitee reeds in 1999/2000 alle eiendomme in sy gebied duidelik afgebaken en in ‘blokke’ tussen bestaande paaie ingedeel en genommer het. In ‘n noodgeval is die plaasnommer voldoende vir identifikasie en optrede, terwyl al die ander besonderhede van die inligtingslys beskikbaar is. Die gemeenskap is bemagtig deur kursusse onder meer oor kommunikasie, roepstrukture, kommunikasie met die plaaslike gemeenskap se hoofmanne, taktiese aspekte soos lokvalle en teen-lokvaloptredes en noodhulp.
Die vroue help wen
Me. Annari Muller en me. Ria Greyling het positief begin saamgesels en ook vir Rita Venter, Lizelle Schoerie en Gertien Viviers in ‘n veiligheidskomitee betrek en ‘n suksesvolle gemeenskapsaksie vanuit die boerevereniging geloods. "Die bestaande stelsel is geëvalueer en aangepas om soveel as moontlik van die Levubu-inwoners daarby betrokke te kry. Elke steungroep binne die Levubu-steunkring het ook ’n dame as steungroepsleier of veiligheidsbestuurder aangewys om die aksies binne die groep te koördineer," sê me. Muller. Die begraafplaas word ook nou deur die dames in stand gehou en die steungroepe neem maandeliks die verantwoordelikheid daarvoor.
Die dames het onder meer weerkaatsborde aangebring, die inligtingstelsels opgedateer, die kommunikasie in die gemeenskap verbeter en ‘n sosiale element ingebou by feitlik al die aksies.
"Ons is almal hier om te bly en ons moet eerstens sorg dat dit vir ons veilig is, maar ons moet ook sorg dat dit vir ons lekker is om hier te bly. Ons mans is hier om te boer en dit is wat hulle moet doen, sonder dat hulle té veel hoef te bekommer oor die instandhouding van die veiligheidstruktuur," sê me. Muller.
Die kontantprys wat gewen is in die "Boer maak ‘n plan" kompetisie was baie welkom. "Dit sal definitief help om gaatjies wat maar gereeld opduik, toe te stop. Ons as dames wil ook dankie sê aan ons metgeselle wat altyd skouer aan die wiel sit, asook ieder en elk wat altyd bereid is om te help of patrollie te ry!" sê Muller.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
