

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 July 2007
Die misdadiger se dae in Louis Trichardt en omgewing is klaarblyklik getel.
Dit is ook nie net ‘n droom nie, want as die kundigheid om misdaad te voorkom en die suksesvolle reaksie op die misdaad wat wel deurglip, bymekaarkom, dan het skelm se kind sy trekpas gekry.
Die visie wat deur die loodskomitee van Suid-Afrika Teen Misdaad op 21 Julie in Louis Trichardt geformuleer is, is "om misdaad nasionaal tot aanvaarbare vlakke af te bring deur die maksimum betrokkenheid van alle gemeenskappe."
Die nasionale visie en missie van die SATM is uitgetrap met die insette van die dorpswag, plaaswag, belastingbetalers en sakesektor, terwyl plaaslike kriminoloog dr. Neels Roelofse gefasiliteer het.
"Louis Trichardt is uitgesoek as die plek om die nasionale plan aanmekaar te sit, aangesien hier getap kan word uit die plaaslike kundigheid en die sukses wat reeds behaal is in misdaadbestryding," sê dr. Roelofse.
"Ek sien dit as ‘n ding wat kan werk en ons kan dit maak werk," sê mnr. Dirk Meissenheimer, ondervoorsitter van die dorpswag. "Ons het mekaar se kundigheid nodig." Meissenheimer sê dat die SATM met Lukas Swart en sy kennis van vroegtydige identifisering van misdaad, tesame met die bestaande reaksie strukture, misdaad kan voorkom.
"Dit is nie lank voor dinge gedoen gaan word nie; ons gaan nie meer praat nie, ons gaan begin werk," sê Meissenheimer.
Hierdie week het mnr. Bertus Petzer, voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), gesê dat een moord, een verkragting en een huisbraak een te veel is.
"Ek sien die SATM nie as ‘n stelsel wat wil oorneem nie, maar ‘n stelsel wat wil versterk en help. Die vryheid van beweging van die misdadigers sal totaal beperk word. Met ‘n sterk band tussen die SATM en die bestaande patrollies, ontneem ons die misdadiger sy inisiatief en ontsê ons hom die gebied," sê Petzer.
Mnr. Doors le Roux, ondervoorsitter van die Soutpansberg Steunkring en een van die plaaswag se rolspelers by die werkswinkel, het versigtig gereageer.
"Ons moet nog eers met ons mense praat. In hierdie stadium voorsien ek dat die SATM onafhanklik van die plaaswag gaan funksioneer en andersom. Ons sal ‘n goeie verhouding hê, maar ons sal nie getroud wees nie. Die SATM met Lukas het ‘n klomp kennis rondom misdaadtekens en ons sal definitief daarvan gebruik maak. Die plaaswag sal weer help met die reaksie op misdaad. Persoonlik sien ek dit as wedersydse hulp op versoek," het Le Roux gesê.
Mnr. Lukas Swart het in ‘n persverklaring hierdie week gesê dat die sukses van die SATM se strategiese beplanningsvergadering op 21 Julie daarin lê dat daar, ten spyte van uiteenlopende idees van die verskillende strukture, ooreengekom is om saam te werk ten behoewe van die gemeenskap en om misdaad vas te vat.
Die vergadering het besluit dat dr. Roelofse en mnr. Petzer die finale formulering van die nasionale vlak vir die volgende vergadering sal afhandel, waarna die tweede vlak, die plaaslike taktiese vlak, hanteer sal word.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
