ADVERTISEMENT:

 

Getal vlugtelinge by grens neem met 50% toe

 

News  Date: 27 July 2007

 

Die getal Zimbabwiese vlugtelinge wat deur die Beitbrug Grenspos gerepatrieer word het sedert die begin van die jaar met meer as 50% toegeneem teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Suid-Afrika het vanaf Januarie tot Junie vanjaar reeds meer as 100 000 Zimbabwiërs gerepatrieer.

Die programbestuurder van die internasionale organisasie vir migrasie (IOM), mnr. Nick van de Vyver, sê altesaam 102 413 Zimbabwiërs is gedurende die eerste helfte van die jaar deur Beitbrug gerepatrieer. Nagenoeg 83% van hulle is mans. Net sowat 58% van hierdie gedeporteerdes het gebruik gemaak van die bystand wat deur die gesamentlike bystand- en hulpsentrum aangebied word. Die sentrum is verlede jaar gesamentlik deur Suid-Afrika en Zimbabwe tot stand gebring en verskaf kos, oornag geriewe en gratis vervoer na hul tuistes. Die sentrum het ‘n maandelikse begroting van R10 000 vir voedselvoorrade.

Van de Vyver sê die grootste getal gedeporteerdes in een maand was 21 421 in Januarie vanjaar. Die minste wat in ‘n enkele maand gedeporteer is was 14 265 in April.

Verlede jaar is altesaam 104 300 Zimbabwiërs deur Beitbrug teruggestuur. Van de Vyver sê die daaglikse getal wissel.

"Ons hanteer normaalweg ‘n grootmaat verskuiwing wanneer die Lindela repatriasiesentrum in Johannesburg ontruim word vir nuwe aankomelinge."

Van de Vyver sê talle Zimbabwiërs steek die Limpopo onwettig op hul eie oor. Daar is egter sommige wat ongeregistreerde oorgrens vervoerders, wat bekend staan as omalayitsha, om hulle deur die Beitbrug grenspos te smokkel teen vergoeding wat van R1 000 tot R2 000 wissel.

Intussen word berig dat lede van die Suid-Afrikaanse nasionale parlementêre komitee insake vrede en stabiliteit ‘n inligtingsbesoek aan die grenspos gebring het en ernstige kommer oor die situasie uitgespreek het.

Die onwettige instroming uit Zimbabwe is steeds besig om drasties toe te neem, in weerwil van gesamentlike grenspatrollies deur polisie en soldate van Suid-Afrika en van Zimbabwe.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines