

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 July 2007
Die Suid-Afrikaanse Padagentskap Beperk (SAPAB) is skriftelik versoek om aandag te gee aan probleme wat grondeienaars in die omgewing van die Baobab-tolhek ondervind.
Grondeienaars in die onmiddellike omgewing van die Baobab-tolhek ervaar toenemend druk op hulle eiendom weens ‘n verskeidenheid redes.
Dit is veral die plase Antrobus 566 MS, Antrobus resterende gedeelte 2 en gedeelte 2 van die plaas Scott MS 567 waar die situasie drasties versleg het.
In ‘n brief aan SAPAB sê die grondeienaar die tipiese probleme wat ervaar word sluit die volgende in:
Sedert die oprigting van die tolhek gebruik die veiligheidsmagte die engte wat dit bied om in die onmiddellike omgewing padblokades op te rig. Onwettiges en kriminele beweeg doodgewoon te voet om so ‘n padblokkade, verby die tolhek oor die private eiendom om gewoonweg weer met hulle voertuie suid van die tolhek te herenig. Die tolhek is ook ‘n baie duidelike baken waar kriminele, onwettiges en ander ontmoet.
Wildwerende heinings word na willekeur noord en suid aan beide kante van die N1 in die omgewing van die tolhek geknip, hoofsaaklik deur onwettige Zimbabwiërs wat hulle "geleenthede" naby die tolhek ontmoet. Gewoonlik 2 tot 3 drade word op ‘n keer geknip.
Swaar vragmotors hou nagenoeg 600 meter suid van die tolhek stil om konvooie op te maak of onwettiges op te laai. Taxis en ander voertuie wag gereeld vir onwettiges net suid van die tolhek.
Vragmotors wat die verligte gebied as veilig ervaar, oornag gereeld langs die N1. Hierdie bestuurders en passasiers beskik oor geen ablusie geriewe nie en knip maklik aangrensende wildwerings om die betrokke plase vir dié doel te betree. Rommel word gestrooi en oop vure gemaak. Vullisdromme is aangebring en geen-betredingsbordjies opgerig in ‘n poging om die probleem te verminder.
Op 8 Junie, 2007, omstreeks 19h30, moes die grondeienaar ‘n jong koedoe op die N1 skiet omdat dit ‘n groot veiligheidsrisiko vir padgebruikers ingehou het. Later is vasgestel dat sy wildwering ongeveer 1,2m geknip was. Die koedoe moes deur dié opening die N1 bereik het.
‘n Moontlike oplossing wat aan die hand gedoen word is die verlenging van die ry ingeplante houtpale tot ‘n paar honderd meter buite die ligkring van die tolhek, in ‘n poging om die gereelde skade aan duur wildwerende heinings en die gevaar van wild en beeste op die N1 uit te skakel.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
