ADVERTISEMENT:

 

Die grasdakwoning wat Maandagaand totaal verwoes is in ‘n brand net buite die dorp. Daar word beweer dat die brandweer nie die vlamme betyds kon bestry nie, aangesien hulle onder meer sonder water op die toneel opgedaag het.

Vlamme woed, maar water is min

 

News  Date: 03 August 2007

 

Wat staan mens te doen as jou huis afbrand en die plaaslike brandweer net nie instaat is om die vlamme te bestry nie?

Dit is die vraag wat ontstaan het by talle inwoners van Louis Trichardt, nadat ‘n grasdakwoning van mnr. Gerhardt Gilbert Maandagaand tot op die grond afgebrand het. Die brand het gevolg slegs ure na ‘n brand ook ernstige skade by Pennells Tenke in die industriële gebied aangerig het.

Gerhardt, wat bekend is vir sy grasdakbedryf, het talle huurhuise op sy plaas wat sowat ses kilometer buite die dorp geleë is. Volgens Gerhardt is die grasdakhuis wat afgebrand het, uitverhuur aan twee werknemers van die Kutama/Sinthimule gevangenis. Dit is nie seker hoe die brand ontstaan het nie.

Adelle Smit, een van die ander huurders, het aan die Zoutpansberger gesê dat sy ongeveer 23:00 wakker geword het van ‘n geraas.

"Dit het geklink soos iemand wat stoele rondskuif," sê Adelle. Sy het haar man wakker gemaak en kort daarna net vlamme gesien. Haar man is dadelik na die brandende huis toe om die twee huurders wakker te maak.

Gerhardt het minute later op die perseel aangekom nadat die brandweer geskakel is.

Die twee huurders se voertuie het onder die afdak by die woning gestaan, die een ‘n twee-week-oue Mercedes wat beskadig is. Die ander voertuig is verwyder, maar die bewaarders was te skrikkerig om die Mercedes te verwyder. ‘n Omstander het egter die voertuig se sleutels gegryp en dit ook weggetrek.

Die groot sports het na bewering egter gekom eers toe die brandweer op die toneel opdaag. Omstanders vertel dat toe die brandweer wou begin water spuit, daar besef is dat daar geen water in die watertenk is nie. ‘n Tweede brandweerwa het opgedaag, maar dié het blykbaar nie genoeg drukking gehad nie en kon nie die water deur die pype forseer nie.

Volgens Gerhardt was dit totale chaos met brandbestryders wat rondgehardloop het met brandslange sonder water.

Die eerste brandweerwa, wat leeg op die toneel gekom het, is eers weer terug dorp toe om te gaan water haal. Helaas, met sy terugkeer was die woning reeds afgebrand. Gerhardt is van mening dat twee derdes van die woning nog gered sou kon word, as die eerste brandweerwa nie leeg opgedaag het nie. Die skade aan die woning word beraam op R320 000 en dit sal heeltemal herbou moet word. Pogings om kommentaar te verkry vanaf die plaaslike brandweer was teen druktyd onsuksesvol. Die Zoutpansberger is ‘n telefoonnommer gegee om te skakel by die Vhembe Distriksmunisipaliteit, maar volgens Telkom bestaan die nommer nie. ‘n Ander nommer is by die plaaslike Stadsraad bekom. Dié het geantwoord, maar die persone wat kon kommentaar lewer was nie op kantoor nie. Die skakelbeampte van die distriksraad se selfoonnommer is toe bekom, maar die nommer het net bly lui.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines