

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 August 2007
Shumani Richard Dzebu (31), wat reeds twee lewenslange vonnisse en ‘n verdere 17 jaar gevangenisstraf uitdien nadat hy aan muti moord skuldig bevind is, is verlede week in die streekhof op Louis Trichardt ook daaraan skuldig bevind dat hy wild en beskermde wild by ‘n watergat in die Nwanedi Natuurreservaat vergiftig het.
Die verhoor het reeds verlede jaar in die hof hier begin met Dzebu, wat saam met medebeskuldigde Daniël Mulaudzi (22), op vier klagte rondom die vergiftiging van die diere aangekla is. Die vier klagte het onderskeidelik behels die vang en jag van beskermde wild, verbode dade ten opsigte van waterbronne, die verwydering en optel van dooie wild en betreding.
Wild wat by die watergat in die Nwanedi Natuurreservaat gevrek het van die gif het ingesluit drie sebras, vyf renosters, vier bobbejane, sewe vlakvarke, vyf blouwildebeeste, twee jakkalse, drie rooibokke, ‘n bosbok en ‘n koedoe. Die waarde van die dooie diere is geraam op meer as R1,5miljoen. Van die renosters se horings is afgesny, wat dalk die motief vir die vergiftiging van die diere kon gewees het.
Mulaudzi het reeds op 21 November verlede jaar skuldig gepleit op klagte een en drie, waarna hy gevonnis is tot ‘n boete van R15 000 of vyf jaar gevangenisstraf op klagte een en ‘n verdere boete van R4 000 of een jaar gevangenisstraf op klagte drie.
Dzebu het in daardie stadium geweier om te pleit en sy saak is uitgestel vir verdere verhoor. Hy is egter Dinsdag, 24 Julie, skuldig bevind op al vier klagte.
Op klagte een en twee is Dzebu gesamentlik tot tien jaar gevangenis gevonnis, plus ‘n verdere tien jaar op klagte drie en 12 maande vir klagte vier. Hy sal altesaam 20 jaar gevangenisstraf uitdien, aangesien die hof besluit het dat van die vonnisse saam uitgedien moet word.

ADVERTISEMENT:
