

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 August 2007
Talle inwoners wat hul voertuiglisensies wil hernu staar steeds verwarring en frustrasie in die gesig by die Makhado Munisipaliteit.
Een so inwoner is mev. Magie Eshmade wat verlede week vanaf 07:40 in die rye by die munisipaliteit gestaan het, net om twee ure later ingelig te word dat sy in die verkeerde ry is. Eshmade het gesê sy was briesend, aangesien sy voor die tyd by amptenare navraag gedoen het oor watter ry die regte een was. Sy sê sy het die kennisgewings by toonbank vier gelees, maar was nie presies seker wat om te doen nie, aangesien die kennisgewings teenstrydige boodskappe gehad het.
Die een kennisgewing, vertel Eshmade, is sommer met die hand geskryf en lees dat die toonbank slegs bedoel is vir motorhandelaars en nie die publiek nie. Die ander kennisgewing, uitgetik en onderteken deur die munisipaliteit se direkteur Gemeenskapsdienste mnr. Peter Magwala, lees dat alle lede van die publiek toonbank vier moet gebruik vir die hernu van voertuiglisensies. Nadat sy eindelik (in die verkeerde ry) voor uitgekom het, moes sy hoor "Jammer, ek kan jou nie help nie." Eshmade het uiteindelik by die toonbank langsaan reggekom.
Die Zoutpansberger het gaan ondersoek instel. Daar aangekom, kon slegs die handgeskrewe kennisgewing gevind word, maar geen teken van die getikte kennisgewing nie. Eshmade is seker daarvan dat die getikte kennisgewing intussen verwyder is, nadat sy daaroor gaan kla het.
In antwoord op inwoners se klagte rondom die verwarring wat hulle by die lisensie-afdeling begroet, het mnr. Magwala gesê dat die munisipaliteit reeds by ‘n vorige geleentheid aangedui het dat hulle in die proses is om groot permanente kennisgewings aan te bring. Hy het bygevoeg dat die nuwe kennisgewings ook onder meer sal aandui watter dokumentasie verlang word van inwoners. Magwala het die hoop uitgespreek dat die kennisgewingborde meeste van die verwarring in die toekoms sal uitskakel. Hy het weereens verskoning gevra vir enige verwarring en ongelukkigheid ten opsigte van munisipale dienste ten opsigte van die hernu van voertuiglisensies.

ADVERTISEMENT:
